Suid-Afrika kry sy eerste enkelgraan-whisky

Date posted:
July 28, 2009

Die groeiende vraag na spesialis-whiskies in Suid-Afrika het gelei tot die skepping van die eerste plaaslike enkelgraan-whisky en die vestiging van ‘n nuwe sub-kategorie om die “inheemse” styl te akkommodeer.

 

Bain’s Cape Mountain Whisky, ontwikkel deur die meesterdistilleerder, Andy Watts, in die James Sedgwick-distilleerdery in Wellington, word as ‘n “Cape Mountain Whisky” geklassifiseer en van plaaslik verboude graan gemaak.

 

Wat dié whisky heel besonders maak, is dat dit dubbel verouder word in spesiaal uitgesoekte eikehoutvate. Na die aanvanklike veroudering van drie jaar word dit dan weer vir ? verdere twee jaar se veroudering in ander vate oorgetap sodat die onttrekking van geure kan voortgaan.

 

Watts, het gesê dat met die groeiende klem op fynproewerskap vir Suid-Afrikaanse verbruikers en hul belangstelling in herkoms, was hy geïnspireer om ‘n whisky te skep wat uitsluitlik van plaaslike graan gemaak word. “Ons graan, wat plaaslik verbou word, skep die ideale bron vir die whisky wat gekomplementeer word deur die soet geure van die eikehout waarin dit verouder word, en dit lei tot ‘n interessante profiel.”

 

Volgens Watts toon Bain’s Cape Mountain Whisky ‘n buitengewone wisselwerking tussen spiritus en hout om ‘n mengsel van toffie-, blomme- en vanilla-aromas en -geure te skep, met ‘n titseltjie spesery wat versag word deur soet ondertone. Die resultaat is ‘n warm en talmende mondgevoel met ? buitengewoon sagte afsluiting.

 

Die whisky verkry sy naam van die Bainskloofpas wat in 1853 geopen is en vandag ‘n nasionale gedenkwaardigheid is. Volgens Watts “harmoniseer die pas soomloos met sy natuurlike omgewing.”

 

Die luiperds op die wapen verteenwoordig die Kaapse bergluiperds wat vir honderde jare in die omgewing van die Bain’s Kloofpas gewoon en geswerf het. Hierdie vorstlike, vlugvoetige en kluisenaaragtige roofdiere bly teen die styl, ontoeganklike hange van die robuuste berge. Vandag is daar dramaties minder van hierdie bedreigde katspesies oor, maar van tyd tot tyd word hulle tog nog gewaar.

 

Bain’s Cape Mountain Whisky is beskikbaar in ‘n vierkantige 750ml-bottel (met of sonder ‘n geskenkblik) en sal na verwagting teen sowat R153 verkoop.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram