Vooraanstaande kenners van wyntoerisme van oral ter wêreld beskou die Rust en Vrede-landgoed naby Stellenbosch as die Best Of Wine Tourism-toekennings se algehele globale wenner vir Suid-Afrika vir 2010. Die wenners is pas by die Great Wine Capitals Global Network se glansryke toekenningseremonie in Bordeaux, Frankryk, aangekondig. Die geleentheid is deur toerismekenners, hoogwaardigheidsbekleërs en produsente uit wynstreke in Europa, Noord-Amerika, Latyns-Amerika, Suid-Afrika en Nieu-Seeland bygewoon.
Die keuse van Rust en Vrede was te danke aan die uitnemendheid van sy restaurant onder beheer van David Higgs. Dit is die eerste keer dat dié landgoed so ’n toekenning van die jaarlikse Best Of Wine Tourism-paneel kry. Die wynmakery, wat deur Jean Engelbrecht besit word, was onlangs in die kollig toe Coenie Snyman, sy wynmaker, deur Diners Club as Wynmaker van die Jaar aangewys is.
Behalwe Kaapstad/Kaapse Wynland is Bilboa-Rioja (Spanje), Bordeaux (Frankryk), Florence (Italië), Mainz (Duitsland), Mendoza (Argentinië), Porto (Portugal) en San Francisco-Napa (Verenigde State) ook lede van die netwerk. Christchurch in Nieu-Seeland is as die jongste lid aanvaar, en sal van volgende jaar af deelneem.
Suid-Afrika se kategorie-wenners is:
Clarence Johnson, onderburgemeester van die Wynlande-distriksmunisipaliteit, wat ook die president van die Great Wine Capitals-organisasie is, het gesê die beoordelaars is beïndruk deur die vordering met die gehalte van plaaslike aanbiedings.
“Ondanks die resessie het hulle gemerk dat geen kortpaaie gevolg word nie. Hulle het trouens ervaar dat mededingers hulle selfs meer inspan om meer klante te lok in omstandighede waar daar minder besteebare inkomste is. Die wenners het bewys dat hulle die kredietkrisis te bowe kan kom deur beter waarde te bied, die gehalte van hul ervaring te verbeter, plaaslike glanspunte in die natuurlike omgewing vernuwend ten opsigte van hul kookkuns, kuns, handvlyt en kultuur in te span, en baie meer aandag aan besonderhede te gee.
“Die beoordelaars was ook veral beïndruk met die al sterker samewerking onder deelnemers, en hoe gretig hulle is om met hul bure saam te werk om ’n streeksbewustheid te kweek.
“Stellenbosch het die meeste kategorie-wenners gelewer, maar ons is bly dat ander streke ook goed verteenwoordig word. Kategorie-wenners bied uiteenlopende ervarings aan, van die weelderigste tot die mees toeganklike.”
Johnson het ook gesê die beoordelaars het verskeie binnelandse mededingers vir die gehalte van hul inskrywings geloof, veral Greatest Cape Wine Tours, Almenkerk, KWV, Seidelberg, Delheim en Rustenburg.
“Die feit dat die kompetisie inskrywings van sowel goed gevestigde as nuwe mededingers lok, beklemtoon hoe belangrik hulle is om die Kaap se wyntoerisme uit te bou.”
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast