Student van Kayamandi kry unieke kans om loopbaan in wyn te versnel

Aphelele Mvamva van Kayamandi in Stellenbosch is aangewys as die eerste wenner van ʼn versnelde vaardigheidsprogram wat deur Drostdy Hof geborg word en wat haar in staat stel om in 2020 saam met leidende figure in die Suid-Afrikaanse wynbedryf te werk en van hulle te leer.

Die jaar-lange mentorprogram, wat daarop gemik is om haar loopbaan in die wynbedryf te versnel, sal haar blootstelling gee aan deskundiges op die gebied van wingerdbou, wynmaak, volhoubaarheid, bemarking en verbruikerstendense. Sy sal ook verskeie weke deurbring in Swede, een van hierdie Drostdy Hof se sleutelmarkte, waar sy verbruikers en lede van die kleinhandel en die restaurantbedryf sal ontmoet.

Die 21-jarige oud-student van die Pinotage Youth Development Academy (PYDA) in Stellenbosch is na ʼn deurtastende keuringsproses vir die Drostdy Hof-program aangewys. PYDA is ʼn onafhanklike organisasie wat agtergeblewe jong matrikulante voorberei vir loopbane in die wyn-, toerisme- en verwante sektore.

Volgens Liezl Dippenaar, Drostdy Hof se internasionale bemarkingsverteenwoordiger, het die handelsmerk besluit om in vennootskap met PYDA te tree weens laasgenoemde se reputasie in tegniese en indiensopleiding, en die klem wat op die persoonlike ontwikkeling van studente gelê word.

Mvamva, wat matriek aan die Makupula Sekondêre Skool in Kayamandi behaal het, beskryf haarself as “een wat goeie verhoudings opbou” en wat “aanpasbaar is, vinnig leer, ʼn goeie luisteraar is en oor skeppende en skryfvaardighede beskik”.

Dippenaar het verduidelik dat Drostdy Hof se graadprogram deel vorm van die handelsmerk se breër sosiale en ekovolhoubaarheidsveldtog. Benewens die bedryf van die graadprogram, befonds Drostdy Hof ook elkeen van die 50 studente wat PYDA jaarliks vir sy kern-wynkwalifikasie aanvaar. Die wynmodule word deur die Universiteit van Stellenbosch gefasiliteer.

Drostdy Hof, saam met PYDA, is van voorneme om die Drostdy Hof-graadprogram op ʼn jaarlikse grondslag te bedryf.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>