Stellenzicht se wyne laat 'celebrity' bontstaan!

Date posted:
January 11, 2012

Ek het van Guy Webber, bekende wynmaker van Stellenzicht buite Stellenbosch, en sy tuisgebakte brood gehoor lank voor ek hom ontmoet het. En toe ek hom die dag ontmoet en met sy brood en wyn kennis maak, het ek verstaan hoekom daar soveel bohaai oor hierdie kêrel gemaak word.

 

Maar nou loop ek my storie vooruit. Met ‘n uitnodiging om eendag saam met Guy brood en wyn te geniet wat uit sy eie hande kom, het ek ‘n jaar of vier gelede besluit om sommer twee vlieë met een klap van die aardbol te vee en die volgende Fokus-artikel met ‘n glanspersoonlikheid op die plaas aan die voet van die Helderberg in die sogenaamde Goue Driehoek te doen. Dan kan ek sy wyne saam met sy gebak proe, het ek gereken, en die hele spulletjie afsluk met ‘n braaivleisie en nog wyn! Hoekom dan nou nie.

 

My soeke na ‘n glanspersoon om my te vergesel en die hedonistiese lewe van mense, wyn en kos te geniet, lei toe na Pedro Camara, bekende radio-, verhoog- en televisie-persoonlikheid (Carlos in 7de Laan en vele ander rolle).

 

Een heerlike weeksdag ontmoet ons mekaar toe kort voor middagete onder die bome op die parkeerterrein by Stellenzicht (021-880-1103) se kelder en proelokaal. Daar vertel hy my toe dat hy sy wynkennis so op 5 uit 10 sou skat en dat hy rooiwyn bo alles verkies, dat sy gunsteling ‘n merlot is, maar dat ‘n shiraz hom ook aanstaan.

 

Net so van die os op die jas, Stellenzicht se geskiedenis gaan so ver terug as 1692 toe dit deel was van ‘n groter langoed met die naam Rustenburg. In 1981 het Hans Schreiber die plaas gekoop, toe dit as Alphen bekend gestaan het, dit Stellenzicht herdoop as gevolg van die pragtige uitsigte op Stellenbosch en ‘n uitgebreide aanplantingsprogram aangepak.

 

In 1985 het Schreiber ook Neethlingshof aangeskaf en vandag word albei landgoedere deur die maatskappy Lusan bedryf wat gevorm is toe Schreiber en Distillers Korporasie saamgesmelt het.

 

Altesaam 131 hektaar is onder wingerd, met sewe rooi en vier wit kultivars. O ja, en Stellenzicht is ook die tuiste van Hill & Dale-wyne.

 

Soos op alle plase in die pragtige wynlande van die Kaap, hou die majestieuse berge permanent 'n ogie oor wat in die wingerde gebeur!

 

En gepraat van wyne, dit was per slot van sake die hoofrede vir die besoek. Dit, kos en mense. Met ander woorde, kuier!

 

En daar kom die groepie van ons toe in die kelder bymekaar. Om te eet, drink, gesels en die lewe te geniet. Op die gedekte tafel is drie brode, uit dieselfde hande wat Stellenzicht se spogwyne maak - ‘n foccacia met gedroogde tamaties en uie, ‘n ciabatta met truffelolie en ‘n saadbrood. En hulle word omring deur die Golden Triangle Sauvignon Blanc 2007, die Golden Triangle Chardonnay 2004 en die Semillon Reserve 2004, almal van Stellenzicht natuurlik.

 

En daar gaat ons toe! Daar is ge-mix en ge-match vir ‘n vale, daar is saamgestem oor sekere kombinasies en verskil oor ander, maar daar was absolute eenstemmigheid oor die feit dat brood en wyn ‘n piekniek op sy eie kan maak.

 

Die Sauvignon Blanc het loshande by Pedro gewen en hy het so ‘n verafkyk in sy oë gekry toe hy vertel hoe hy daardie wittetjie saam met salm in ‘n pan op die kole of galjoen of geelstert op die kole sal geniet.

 

En toe kom die braaivleis en die rooies. Die Golden Triangle Cabernet Sauvignon 2002 is gevolg deur die Golden Triangle Shiraz 2004, die Rhapsody 2004 (‘n Kaapse versnit van byna eweveel pinotage en shiraz) en die Golden Triangle Pinotage 2006.

 

Hier was Pedro in twee geskeur. Sy eerste keuse het op die Shiraz geval, maar toe hy na sy proenotas kyk, sien hy dat hy die Pinotage meer punte gegee het. Na ‘n paar sekondes van sielewroeging het hy toe maar op die Shiraz besluit en vertel hoe hy uitsien om hierdie spoggerige wyn met beesfillet of –kruisskyf op die kole te geniet.

 

”Maar met hierdie pinotage wil ek niks anders hê nie as braaivleis – tjops en wors, en baie daarvan,” het hy verklaar.

 

Op my telkaart was die Golden Triangle Sauvignon Blanc loshande die wenner onder die wittes, maar ek het lekker klei getrap by die rooies en uiteindelik het slegs ‘n halwe punt die verskil beteken tussen die wenners, die Rhapsody en die Golden Triangle Pinotage, en die naaswenner, die Cabernet Sauvignon.

 

Die Sauvignon Blanc se komplekse aspersie-, gras-, groenvy- en soetrissie-geure en die feit dat hy jou smaakkliere met elke proe verras, het my uitgeboul en ek stem saam met Guy dat hy ideaal sal wees saam met seekos, hoender, koue vleise en slaai.

 

'n Mens se keel kan droog raak in die wingerd! Guy Webber in sy "kantoor" op Stellenzicht.

 

Ondanks sy ryp pruim- en donker sjokoladegeure en ryp vrugtesmake met ‘n titseltjie speserye gly die Rhapsody soos satyn in jou keel af, terwyl die moerbei-, swartbessie- en neutgeure van die Pinotage ‘n aanduiding is van die vol vrugtesmaak (veral donkerbessies) en skimp van houtveroudering wat op die smaakkliere wag. Hierdie rooies is nommerpas vir goedgegeurde rooivleis op die kole of in die pot.

 

Hierdie was maar net ‘n paar van die spogwyne wat Guy Webber op Stellenzicht maak en ek sien uit na die volgende geleentheid wat ek die ander ook kan proe, op my eie. Rustig!

 

Einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram