Stellenbosch is aangewys as die Wyndorp van die Jaar 2011! Die toekenning is op Valentynsdag oorhandig aan Annareth Bolton, HUB van Stellenbosch American Express® Wynroetes, deur die invloedryke Sweedse wynklub, Munskänkarna.
Munskänkarna is ‘n wynklub met meer as 22 000 aktiewe lede. Die lede is gegroepeer in 144 verskillende groepe, waarvan 136 gebaseer is in Swede, en die res in Finland en Spanje. Munskänkarna is in 1958 gestig as ‘n nie-winsgewende organisasie met die doel om kennis en belangstelling in wyn te versprei en ontwikkel.
Die klub is geweldig invloedryk onder Sweedse wynverbruikers. Lede van die wynklub is geneig om meer geld te bestee op wyn as die algemene verbruiker en word gesien as kundiges in hul eie sosiale netwerke. Die kennis onder lede verskil: sommige is geinteresseerde verbruikers, terwyl ander se kennis met dié van ‘n sommelier vergelyk kan word.
Stellenbosch is hierdie jaar gekies as die wynstreek van die jaar (2010 se gekose streek was die bekende Châteauneuf-du-Pape). Dit is die eerste keer dat hierdie eer ‘n wynstreek buite die EU te beurt val en inderdaad ‘n prestasie waarop Suid-Afrika baie trots kan wees. Die direksie van die klub is tans in Stellenbosch met ‘n program saamgestel deur Stellenbosch-Wynroetes. Die program sluit besoeke aan Stellenbosse wynplase en restaurante in, asook ontmoetings met wynmakers, alles gedurende parstyd in die wynland.
Annareth Bolton, HUB van Stellenbosch-Wynroetes, sê: “Ons is geweldig trots op hierdie toekenning. Suid-Afrika het tans 20,5% markaandeel in die Sweedse mark, wat ons die grooste uitvoerder na Swede maak. Ons verwag nog heelwat georganiseerde groepe en besoekers in Stellenbosch, en ons sien uit daarna om ons uitsonderlike kwaliteitwyn en toerisme-aanbiedinge ten toon te stel!”
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast