Stellenbosch Hills vier tweede oesjaar van sy Kastanjeberg Chenin Blanc

Die tweede oesjaar van ’n wyn wat net in die jare gemaak word wat die wingerde op hul beste vertoon, is pas bekend gestel. Die Stellenbosch Hills Sense of Place Kastanjeberg 2020 is dié kelder se vlagskip-witwyn, ’n gehoute chenin blanc waarvan die druiwe uit ’n enkele wingerd kom.

Hierdie jongste toevoeging tot Stellenbosch Hills se portefeulje het al die eienskappe van ’n uitmuntende wyn en, nes die ander Sense of Place-wyne, is dit die ideale pasmaat vir fynproewerkos. Sy “sterk karakter” maak die Kastanjeberg Chenin Blanc die ideale wyn vir somer én winter.

Die Kastanjeberg 2020 volg in die voetspore van sy voorganger, van die 2017-oesjaar, wat die eerste in die reeks was en behoorlik toegegooi is onder die komplimente. Die koerant, The Herald, het dit “pure klas” genoem, terwyl die bekende kos- en wynskrywer, Michael Olivier, gesê het “as ’n koswyn is dit uitmuntend”. SA Wine Reviews het dit so gestel: “Ons maak heerlike chenin blancs hier in SA. Dis een van hulle.”

Verder het dit het medaljes ingepalm by Veritas 2019; IWSC 2019 Michelangelo International Wine & Spirit Awards 2020 en Vitis Vinifera 2020. Dit het vier sterre in Platter se 2020- en 2021-wyngidse behaal en is aangewys as Grand Cru Nasionale Kampioen “Beste in Klas” en Top 100 by die NWC/Top 100 SA Wines 2020.

Die Stellenbosch Hills Sense of Place Kastanjeberg 2020 is ryk, kompleks en bied uitgelate sitrus-, soetspanspek-, peer-, kanferfoelie-, viooltjie- en vanielje-eikehoutspeserygeure. In die mond ontplof die volronde wyn met peer- en perskegeure en skeutjies vanielje en amandels. ’n Goed gebalanseerde “middelmond” met ’n romerige tekstuur en sappige tanniene sorg vir ’n amper ewigdurende talming op die tong.

Die naam “kastanje” is ’n verwysing na die Wilde Kastaiingbome (Calodendrum capense) wat in die vroeë 1800s aan die Kaap gefloreer het.

Net soos in die geval van die 2017-oesjaar kom die druiwe uit ’n enkelwingerd teen die hange van die Kastanjebergplaas in die Stellenbosch Kloof-streek.

“Droë toestande regdeur die seisoen het kleiner bessies, maar meer intense geure tot gevolg gehad,” sê James Ochse, wynmaker. “Die resultaat is ’n wyn met ’n verouderingspotensiaal van vyf tot tien jaar.”

Die Kastanjeberg 2020, waarvan net 2 700 bottelsgemaak is, is teen R295 by die kelder en uitgesoekte boetiekwynwinkels beskikbaar, sowel as aanlyn op die Stellenbosch Hills-webwerf.

Vir meer inligting oor Stellenbosch Hills, skakel 021 881 3828/9 of stuur ’n epos aan info@stellenbosch-hills.co.za, of besoek www.stellenbosch-hills.co.za.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>