Stellenbosch Hills vier 75ste verjaarsdag met vier uitsoek-rooiwyne

Die jaar 1945 sal vir altyd in menseheugenis verewig wees as die einde van ’n katastrofiese oorlog. Vir ’n klein groepie Stellenbosse wynboere was die jaar ook onvergeetlik aangesien dit vir hulle ’n onafhanklikheid beteken het wat uiteindelik tot die totstandkoming van Stellenbosch Hills gelei het.

Om hierdie geleentheid te vier, het die wynmakery pas sy Bushvine Pinotage 2017 bekend gestel. Pinotage is die eerste rooi kultivar wat destyds onder die jong kelder se etiket gebottel is. Die wynmakery was destyds bekend as Vlottenburg Kelder en het in 2003 Stellenbosch Hills geword.

Hoewel die saadjie vir eers Vlottenburg Kelder en later Stellenbosch Hills reeds in 1707 met die vestiging van die streek se eerste wingerde geplant is, het die einde van die Tweede Wêreldoorlog ’n dramatiese verskuiwing teweeg gebring. Soos vele van hul mede-produsente is boere van die Vlottenburg-streek volgens wet verplig om hul druiwe aan een enkele koöperasie te lewer. Die boere was moeg om vóór sonop in lang rye te staan om hul druiwe te lewer, en boonop hul eie identiteit vir generiese wyne in te boet. Hulle het die geleentheid aangegryp om hul eie kelder te stig.

Vir etlike dekades is hul druiwe aan ’n vooraanstaande brandewyn-distilleerder gelewer, maar in 1970 het hierdie pioniersgroep ’n nuwe rigting ingeslaan, en dit was ’n pinotage wat die weg vir Stellenbosch Hills gebaan het. Hierdie unieke Suid-Afrikaans kultivar wat vandag wêreldwyd aangeplant is, is deur Abraham Perold geskep terwyl hy hoogleraar in wingerdbou aan die Universiteit van Stellenbosch was.

Die wyn het vir 14 maande in Franse en Amerikaanse eikehoutvate deurgebring waar dit ’n ryk en vol karakter ontwikkel het. Die diep robynrooi wyn bied komplekse geure van swartbessies, pruime en moerbeie sagkens vervleg met skeutjies vanielje-eikehout, piesang, donker sjokolade en sigaarboks. Dis pure fluweel op die tong wat lank ná die laaste slukkie nog talm.

Die Bushvine Pinotage 2017 is egter nie die enigste rede vir opwinding by die kelder nie. Saam met die jongste oesjaar van die Bushvine Pinotage kom ook die Stellenbosch Hills Cabernet Sauvignon 2017, Merlot 2017 en Shiraz 2017.

Die druiwe kom van 16 verskillende produsente-plase wat om Stellenbosch geleë is. Hierdie wêreldbekende wynstreek word hoog aangeslaan vir sy diversiteit wat uiteenlopende grondsoorte en tipografie insluit, met ’n matige Mediterreense klimaat.

Die 2017-oesjaar van Stellenbosch Hills se rooiwyne verkoop vir ongeveer R85 per bottel en is by die kelder beskikbaar, asook via die Stellenbosch Hills-webwerf en by uitgesoekte boetiek-wynwinkels.

Vir meer inligting oor Stellenbosch Hills, skakel 021 8813828/9, stuur ’n epos aan info@stellenbosch-hills.co.za, ofbesoek www.stellenbosch-hills.co.za.

 EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>