Stellenbosch Hills stel sy 2020-witwyne bekend

Stellenbosch Hills verwelkom die sonskyn en lekker lewe met hul jongste witwyne. Die toevoeging van twee nuwe witwyne – ambassadeurs van die 2020-oesjaar – is ’n mylpaal vir die wynkelder wat vanjaar sy 75ste bestaansjaar vier.

Die 2020-wittes is albei deel van die reeks wyne wat die uitdrukking van hul herkoms ten doel het. Die druiwe waarvan die Stellenbosch Hills-wyne gemaak word, is afkomstig vanaf plase in dié wêreldbekende streek wat bekend is vir sy ryk landbougrond se diversiteit en gematigde Mediterreense klimaat.

Die Stellenbosch Hills Chenin Blanc 2020 (foto bo) is gemaak van druiwe wat in die Lynedoch-omgewing per hand ge-oes is. Dit is medium in styl, gebalanseerd en wys prominente vrugtegeure met ’n tikkie suurlemoenskil en vars suur. Dit roep geure van grenadella, spanspek, groen appel en lietsjie op.

Dis ’n veelsydige wyn wat op sy beste vertoon as dit koud bedien word en kan met disse soos speseryagtige garnale, geroosterde vis, chicken à la king en pasta geniet word.

Die Stellenbosch Hills Sauvignon Blanc 2020 (regs) is volrond en vars met ’n lemmetjieskil-suur. In die neus is daar groenvry, appelliefies en soet spanspek. Die vrugtigheid rol oor na die tong met skeutjies koejawel en aspersie.

Dis ook op sy beste as dit koud bedien word en heerlik op sy eie, of met geroosterde vis en ’n slaai van tamatie, vars basiliekruid en mozzarella.

Dan is daar die 1707 Reserve White 2019 (links), ’n versnit van 70% chardonnay, 20% semillon en 10% viognier. In die neus is steenvrug, heuning, sitrus en vanielje eikehout-speserye, terwyl dit dans met lewendige sitrusvrug en ’n vars suur op die tong. Elke komponent is afsonderlik in die kelder hanteer voor dit versny is. Slegs 3 000 bottels is gemaak.

Die wyn is die ideale pasmaat vir oesters, soesjie, viskerrie, mosselsop, risotto, geroosterde hoender en roombasis-disse.

Net so wonderlik met kos of op sy eie is die Anna Christina MCC 2018 (regs) wat die viertal afrond en die wynkelder se geskiedenis uitlig. Hierdie Cap Classique is deel van Stellenbosch Hills se vlagskipreeks, Sense of Place.

Die elegante Anna Christina 2018 is vernoem na die oudste dogter van die bekende Stellenbosse wynpionier, Antonie Vlotman. Vlotman was die stigter van die Vlottenburg-plaas wat v-andag die tuiste is van Stellenbosch Hills. Die Vlottenburgkelder is in 1945 gestig en het in 2003 sy naam na Stellenbosch Hills verander.

Die vrugte vir die Cap Classique is met die hand gepluk en met ’n pneumatiese pars afgedruk wat die delikate onttrekking van die beste sap toelaat. Hierdie eerste en huidige oesjaar is toe in die tradisionele Franse metode gemaak en het 15 maande op die gis deurgebring.

Die wyne is by die kelder se proelokaal en webwerf beskikbaar, of vra daarna by eksklusiewe wynwinkels en restaurante regoor die land. Die Stellenbosch Hills Chenin Blanc 2020 kos R55, die Stellenbosch Hills Sauvignon Blanc 2020 R65, die Anna Christina MCC 2018 R195 en die 1707 Reserve White 2019 R135.

Besoek www.stellenbosch-hills.co.za vir meer inligting, of skakel 021 881 3828/9 of stuur ’n epos aan info@stellenbosch-hills.co.za.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>