Stellenbosch Hills soek biltongmaker van die jaar

Date posted:
May 7, 2009

Hierdie tyd van die jaar is die meeste wynmakers besig om hul jaggewere skoon te maak vir hul jaarlikse jagekspedisies. Hulle keer gewoonlik terug met biltong, droë wors en wilde kampvuurstories. Almal van hulle maak daarop aanspraak dat hulle die beste biltong maak en dit is hoekom die Stellenbosch Hills/SA Jagter Biltongmaker van die Jaar-kompetisie so 'n briljante idee is.

"Stellenbosch Hills was die eerste kelder wat twee trots Suid-Afrikaanse lekkernye gekombineer het met ons Wyn- en Biltongavontuur, wat ons by die proelokaal aanbied. Deesdae is die kuns van biltongmaak net so gespesialiseerd soos die kuns van wynmaak, en ons doel was om ? kompetisie te skep waar ons twee van Suid-Afrika se gewildste produkte, naamlik wyn en biltong kombineer," sê PG Slabbert, wynmaker en bestuurder van dié kelder.

Vanjaar se kompetisie is groter, veral omdat SA JAGTER, Suid-Afrika se voorste jagtydskrif, aan boord gekom het as media-vennoot vir die kompetisie.

"Ons by SA Jagter ondersteun Stellenbosch Hills se doel om ? jaarlikse kompetisie te hou wat twee van Suid-Afrika se bekendste produkte kombineer, naamlik wyn en biltong. Die kompetisie spreek tot ons lesers," voeg André van Dyk, redakteur van SA Jagter by.

 

Wyn word al sedert 1659 aan die Kaap gemaak en biltong se geskiedenis strek net sover terug. Die word “biltong” is afgelei van twee woorde, "bil", wat boud beteken, en "tong" wat strook beteken - dus `n stuk gedroogde vleis van die boudstrook van die dier. Die maak van biltong was `n manier om vleis te bewaar, maar deesdae word dit bloot vir die lekkerte gedroog. Die basiese geurmiddels was asyn, sout, suiker en koljander, en al die geurmiddels was vrylik verkrygbaar in die kolonie, te danke aan die Franse Hugenote wat wyn en asyn van Kaapse druiwe gemaak het. Deesdae is die kuns van biltongmaak net so gespesialiseerd soos die kuns om goeie wyn te maak.
   

Biltong is `n gesonde happie omdat dit hoog in proteïen en yster maar laag in vet is en ons almal is bewus van die wonderlike gesondheidsvoordele wat ‘n glasie wyn per dag inhou.

Elke jaar word `n ander Stellenbosch Hills-wyn gekies om as inspirasie te dien vir die deelnemers. Die wenner se biltong moet die gekose wyn die beste komplementeer.

Die wynkeuse vir vanjaar is pinotage, Suid-Afrika se inheemse rooiwyn. Pinotage is gekies om twee redes: vanjaar is dit 50 jaar sedert die eerste kommersiële pinotage gebottel is en dit is ook vanjaar die 350ste herdenking van wynmaak in Suid-Afrika.

 

Vanjaar moet alle inskrywings wildsbiltong wees en pryse van R60 000 is op die spel. Die beoordeling vind op 20 - 21 Augustus plaas waarna ses finaliste gekies sal word. `n Pryswenners-middagete word op Woensdag, 9 September, in Stellenbosch gehou waar die wenner en die twee naaswenners aangekondig sal word.

Voornemende deelnemers kan inskrywingspakke bestel teen R150 per pak. Dit sluit een bottel Stellenbosch Hills Pinotage, sowel as afleweringskoste, in. Skakel 021-881-3828 of besoek www.stellenbosch-hills.co.za vir meer inligting.

Deelnemers moet registreer voor 24 Julie, en die sluitingsdatum vir inskrywings is Dinsdag, 11 Augustus, wanneer 1 kg biltong van alle deelnemers by Stellenbosch Hills besorg moet word vir die beoordeling.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram