Stellenbosch Hills lig sluier op langverwagte Muscat de Hambourg

Die jongste oesjaar van Stellenbosch Hills se bekende en skaars Muscat de Hambourg, die enigste gefortifiseerde wyn van sy soort in Suid-Afrika en dus ’n versamelaarsitem, is nou beskikbaar. Die wyn word net in uitsonderlike oesjare bekend gestel en was in 2020 laas beskikbaar.

Stellenbosch Hills is een van slegs twee kommersiële Suid-Afrikaanse produsente wat die Muscat de Hambourg maak, maar die enigste om dit as enkelkultivar te botteleer. Die wingerd is oorspronklik in 1987 aangeplant, maar moes in 2001 vervang word. Vandag beslaan die opgeleide wingerde net minder as een hektaar.

Die wynkelder stel die 2022-oesjaar van die wyn met ’n splinternuwe, gesofistikeerde voorkoms bekend wat sy uitsonderlike gehalte en erfenis beklemtoon. ’n Nuwe etiket illustreer die wyn se sensualiteit en misterie, en nuwe, helder glasbottels vertoon die pragtige “sonsondergangkleure” daarbinne.

In die glas het die wyn intense geure met skeutjies spookasem, gekookte lekkers, roosblare en viooltjies. Dit tuimel op die tong in heerlike balans en eindig met ’n lang, bevredigende en fluweelagtige afronding.

Die wyn is perfek voor of na ete en moet in die winter teen kamertemperatuur bedien word. Dit is ewe lekker wanneer dit oor gebreekte ys, of vanieljeroomys en aarbeie, bedien word.

Muscat de Hambourg is oorspronklik in Duitsland ontwikkel en die kultivar is ’n kruising tussen Muscat d’Alexandrie en Frankenthal. Stellenbosch Hills maak die wyn in ’n Jerepigo-styl, wat beteken die ongegiste druiwesap word met ’n wynspiritus gefortifiseer om ’n wonderlike ervaring-in-’n-glas te verseker.

Die Stellenbosch Hills Muscat de Hambourg 2022 kos R110 per bottel en is beskikbaar deur die wynkelder se aanlyn-wynwinkel, in die proelokaal en by uitgesoekte wynwinkels landswyd.

Besoek die webwerf, skakel 021 881 3828/9 of stuur ’n epos na info@stellenbosch-hills.co.za vir meer inligting.

Vind Stellenbosch Hills ook op Facebook (StellenboschHills), Twitter @STBHills en Instagram @stellenbosch_hills.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>