Stellenbosch Hills lig sluier op jongste oesjaar van 1707 White Reserve

Stellenbosch Hills het pas die 2020-oesjaar van sy 1707 White Reserve die lig laat sien. Al drie kultivars waaruit die versnit vir die 1707 White Reserve bestaan, kom van een produsent in die Stellenbosch Kloof-area. Dié streek is lank reeds die tuiste vir van Suid-Afrika se bekroondste- én bekendste wyne.

“Ons vlagskip 1707 White Reserve is in beperkte hoeveelhede beskikbaar en bring gereeld pluimpies vir ons wynkelder in,” sê James Ochse, Stellenbosch Hills se wynmaker. “Dis waarlik ’n waardige ambassadeur vir die uitmuntende terroir van die Stellenbosch Kloof-area wat bekend is vir sy ideale klimaat en vrugbare grond.”

Maar dis nie net onder Suid-Afrikaners waar hierdie wyn gewild is nie, wynliefhebbers van sover as Nederland, Rusland en Japan lek ook hul lippe af wanneer hulle van hom hoor. Dit word selfs na Kalifornië uitgevoer.

Die wyn se stamboom maak dit ’n trotse draer van die Stellenbosch Hills 1707-etiket en voltooi die reeks saam met ’n ewe geliefde rooi-versnit. Albei word uit die beste wingerde gemaak en albei word in eikehoutvate verouder.

James (regs) beskryf die 2020-oesjaarwyn as een met ’n bekorende strooi-geel skynsel. Die komplekse nuus is aromaties en spreek van vars sitrus, jasmynblomme en ’n skeutjie kamferfoelie. “Die smaak is volrond met vars suur, ’n goeie gekonsentreerde middelmondgevoel en sappige tanniene,” voeg hy by.

Die wyn se rykheid maak dit die perfekte pasmaat vir soesji, seekoskerrie, mosselsop, risotto en romerige geregte.

Die 1707 White Reserve 2020 is ’n chardonnay-gedrewe versnit met semillon en viognier wat die ander komponente uitmaak. Elke komponent is vir 10 maande op die moer in Franse eikehoutvate van 300 liter verouder. Die chardonnay-komponent is verder afgerond in ’n eiervormige sementtenk wat gebaseer is op die antieke Griekse en Romeinse amfora wat die wyn toelaat om eweredig te sirkuleer en ’n meer verfynde eindproduk tot gevolg het.

Volgens James is die wyn heerlik om nou te drink, maar dit sal maklik vir nog drie jaar in die bottel verouder onder die korrekte stoor-omstandighede.

Die Stellenbosch Hills 1707 White Reserve 2020 is by die kelder self en die meeste drankwinkels beskikbaar teen R135 per bottel.

Vir meer inligting, skakel 021 881 3828/9 of stuur ’n epos aan info@stellenbosch-hills.co.za, of besoek www.stellenbosch-hills.co.za.

Stellenbosch Hills is geleë op die hoek van die R310 en Vlottenburgpad buite Stellenbosch.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>