Stellenbosch bied nuwe en unieke wynviering in Augustus

Daar’s geen vervelige oomblik in die wynlande nie! Benewens al die ongelooflike aanbiedings wat wyn, kos, verblyf en ander ervarings betref, is daar genoeg wynfeeste om enige liefhebber van die lewe aan die gang te hou. Die jongste van hierdie feeste vind van Donderdag, 2 Augustus, tot Sondag, 5 Augustus, plaas, en dis by Stellenbosch, waar anders!

 

Hierdie nuwe viering van die vrug van die wingerdstok gee wynliefhebbers die geleentheid om die wyne en die mense agter die wyne van hierdie gevierde wynstreek oor ’n naweek te herontdek, en is ’n heildronk op uitnemendheid en uiteenlopenheid met ’n handjievol intieme en eksklusiewe geleenthede.

 

Stellenbosch se bekendste legendes sal herleef met wonderlike wynproeë, fynproewerkos en wyn-en-kospasmaats wat met wynpersoonlikhede geniet kan word. Boonop word dit alles op een plek aangebied, De Warenmarkt in die historiese hart van die Eikestad.

 

Die vieringe sal hulde bring aan die streek se wynmaak-erfenis, sy status en sy internasionale posisie. Daar is verskeie kleiner fokusgeleenthede wat regdeur die fees gehou word en sluit onder meer die viering van Vrouemaand en die bydrae wat vroue wynmakers lewer en hoe familietradisies die geheime komponent is wat in elke Stellenbosse wyn se DNS verweef is.

 

Op Donderdag, 2 Augustus, open Boutique Brilliance & Big Bottles die vertoonstuk. Hierdie gemaklike proe-en-peusel-wynervaring word van 6nm tot 10nm gehou en vertoon ’n dosyn van Stellenbosch se boetiek-wynprodusente. Dis weer bewys dat groter nie altyd beter is nie en bied die geleentheid om jou wynrak aan te vul met skaars en minder bekende wynskatte. Die toegangsfooi van R290 per persoon sluit toegang tot ’n fees van heerlike vingerhappies en die oestafel met ’n spesiale kaasfondue in.

 

Op Vrydag, 3 Augustus, sal die Vroue-in-Wyn-laatontbyt die kollig plaas op die streek se vroue wynmakers. ’n Driegang-maaltyd sal van 10vm tot 12nm bedien word met vonkelwyn,  wyn en die wynmakers self, wat die middelpunt van belangstelling sal wees. Kaartjies is R400 per persoon.

 

Die formele aandete, getiteld In die geselskap van Legendes, later op Vrydag, 3 Augustus, bied ’n uitsonderlike geleentheid om sommige van Stellenbosch se groot geeste oor ’n viergang-feesmaal te ontmoet. Onder die gaste wat die geleentheid sal bywoon, is wêreldbekende wynmakers en uitsonderlike storievertellers. Die geleentheid begin om 6.30 vir 7nm en kaartjies kos R650 per persoon.

 

Op Saterdag, 4 Augustus, sal die talent en kennis wat van een geslag na die ander oorgedra word en bydra tot Stellenbosch se sukses vereer word in Father & Son. Hierdie is waarlik ’n geleentheid wat net een maal in ’n leeftyd voor jou deur kom staan en sal van die streek se bekendste pa-en-seun-wynmaakspanne insluit. Hulle sal hul stories kom deel oor vier gange wat met hul wyne gepasmaak word. Die geleentheid begin ook om 6.30 vir 7nm en kaartjies kos R750 per persoon.

 

Die finale geleentheid van hierdie Stellenbosse wynviering is ’n baie spesiale middagete om 12:00 op Sondag, 5 Augustus. Die Cabernet-Langtafel sal die streek se leiding met die edele Cabernet Sauvignon-kultivar uitlig. Hierdie leiersposisie is te danke aan die onvergelykbare konsentrasie plaaslike en internasionale pryswenners. Die viergang-maaltyd sal verskillende oesjare van die wyn met elke dis pasmaak – ja, selfs nagereg. Kaartjies kos R650 per persoon.

 

Kaartjies na elkeen van die Stellenbosch-wynviering se unieke geleenthede is beperk. Vroegtyde bespreking is dus noodsaaklik om teleurstelling te voorkom. Bespreek by www.wineroute.co.za, en kontak Elmarie Rabe by 021 886 8275 of info@wineroute.co.za vir meer inligting.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>