Spruitdrift se rooies smous met skrywer John Miles se kop

Date posted:
October 4, 2011

Suid-Afrika maak van die beste en lekkerste wyne ter wêreld! En asof dit nie genoeg is nie, maak ons moontlik ook die grootste verskeidenheid wyn op aarde – wit, rooi en rosé; droog, effe droog, effe soet en soet; lig, medium en volrond; vrugtig en “klassiek”; vonkel en brandewyn. Dink aan ‘n soort of styl van wyn en ‘n Suid-Afrikaanse wynmaker maak hom! En maak hom goed!

Kyk ook maar net na die verskillende terroir van ons onderskeie wynstreke en jy behoort verwonderd te staan oor die feit dat ons na meer as 350 jaar van wynmaak steeds geen wynkultuur het nie. Ons maak letterlik ‘n wyn vir elke moontlike smaak. En vir elke moontlike sak.

Een van die wynstreke vir wie ek ‘n besondere nering het, is langs die Kaapse Weskus. Daar in die omgewing van Klawer, Vredendal en Lutzville lê die Weskus-wynroete met die magtige Olifantsrivier as sy slagaar en die koue Atlantiese Oseaan as sy buurman. Hier gaan dit egter nie net oor lekker wyn en liplekkerkos (dink aan Muisbosskerm) nie, maar ook oor mense, die Weskus se mense.

‘n Besoek aan die Weskus-wynroete het dus vir my ‘n soort pelgrimstog geword, iets wat ek gereeld móét doen! En ek bly altyd minstens een nag oor, en tydens my laaste besoek was dit by Voorsorg Guest House & Cottages (027-213-2243 / voorsorg@kingsley.co.za). My wynwiele uit die Kaap was Suzuki se indrukwekkende Grand Vitara V6. Lees meer oor hierdie “grand” SNV heel onder.

Op hierdie besoek het ek die bekende skrywer, John Miles, saam genooi as my glansgas vir ‘n besoek aan Namaqua-wyne se Spruitdrift-kelder net buite Vredendal. Ons sou wyn proe, wyn gesels en wyn saam met ons ete geniet in Die Keldery-restaurant by Spruitdrift, een van Vredendal se beste eetplekke, indien nie dié beste nie. 

Links: Na die geproe en gesels is daar gekuier ... nes die Weskussers kan, met wyn, kos en geselskap uit die boeke uit. Voor sit John Miles, met die kunstenaar Saar Steenkamp langs hom. Ander herkenbare gesigte behoort aan Albert Maritz en Koos Thiart.

Maar gou so ‘n ietsie oor my gas vir die dag. John Miles se jongste boek, Voetstoots, het die vorige jaar verskyn. Sy eerste gedigte het reeds in 1963 verskyn onder die titel Standpunte, terwyl hy in 1970 sy prosa-debuut gemaak het met die invloedryke kortverhaalbundel, Liefs nie op straat nie. Ses romans het hierop gevolg.

Spruitdrift se wynmaakspan onder aanvoering van die keldermeester, Koos Thiart, het ons ingewag op die ruim stoep van Die Keldery. Ons het met hul Guinevere, ‘n MCC-vonkelwyn wat uit pinot noir en chardonnay bestaan, afgeskop en toe twee witwyne en vier rooies geproe. Die rooies het by albei van ons die grootste indruk gemaak, veral die Spencer Bay-wyne. Die Spencer Bay-reeks is die kelder se sogenaamde “reserve”-wyne, en as jy hulle proe, verstaan jy hoekom.

Sowel die Spencer Bay Pinotage 2007 as die Spencer Bay The Blend 2007 (‘n versnit van al vyf Bordeaux-kultivars) het goed onder die punte ingeklim op ons telkaarte en die smaakvolle Spruitdrift Cabernet Sauvignon 2006 en Shiraz 2007 moes ongelukkig die aftog blaas. Dis vir my altyd ‘n jammerte dat alle wyne nie kan wen nie en dat daar “verloorders” moet wees, maar dis maar hoe dinge gaan!

John was dit met my eens dat Namaqua en Spruitdrift nie net puik wyne maak nie, maar ook teen regte sakpaspryse. Byvoorbeeld, die twee witwyne wat ons geproe het, Spruitdrift se Premier Grand Cru en Goiya (chardonnay en sauvignon blanc), sal jou nie veel meer as R20 elk uit die sak jaag nie, terwyl al vyf die “gewone” rooies heelwat minder as R30 elk kos. Die duurste wyne is die vier uit die Spencer Bay-reeks, maar teen sowat R80 per bottel is dit werklik goeie waarde vir geld.

Na die geproe en gesels het ons aangesit vir ‘n ete wat baie bekroonde restaurante en hul sjefs op hul neuse sal laat kyk. En die kos is wonderlik gekomplementeer met Spencer Bay se Pinotage en The Blend.

Suzuki se Grand Vitara V6 laat jou breed glimlag! 

Ek het die afgelope jaar of twee ‘n groot ondersteuner van Suzuki geword. En nee, ek praat nie van die tweewielweergawes nie, ek praat van die vierwielers. Ek’s mal oor almal van hulle, van die Swift en SX4 tot die Jimny en Vitara, en die Grand Vitara V6 het ondanks sy gulsigheid ‘n spesiale plekkie in my hart los geskrop.

Byskrif: Selfs die seemeeue kon die versoeking nie weerstaan om hierdie spogwa van nader te bekyk nie!

Toe Suzuki my dus weer ‘n Grand Vitara V6 aanbied, het ek dit met albei hande aangegryp. Op en wakker,sportief,  gerieflik, weelderig, seepglad, mooi, veelsydig en prakties is maar net ‘n paar byvoeglike naamwoorde wat hierdie sportnutsvoertuig beskryf. Ek verstaan hoekom die Aussies so mal is oor Suzuki!

En sy naam is ook baie gepas want “grand” is hy beslis. Hy’s ook goed aanmekaar gesit (die Japanners het baie duidelik kers opgesteek by die Duitsers!) en selfs ‘n redelike slegte stuk grondpad tussen Lambertsbaai en Lutzville kon nie my stopsels los skud nie!

As ek die Grand Vitara met ‘n wyn moet vergelyk wat ons daai dag geproe het, sal dit ongetwyfeld die Spencer Bay The Blend wees. Albei is elegant en gesofistikeerd sonder om hul sterk bloedlyn af te skeep. En met albei weet jy presies wat jy kry. Daar word geen doekies omgedraai nie!

Einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram