Springbok-stut Os du Randt leen sy naam aan nuwe wynreeks

Date posted:
June 3, 2011

Wat is die resep vir 'n heerlike, sagte en ietwat unieke wynreeks? Wel, gooi 'n Vrystaatse kuierbraai, die Springboklegende Os du Randt en 'n wit hoedjie saam … en siedaar!

 

Dis hoe die nuwe Osbloed-wynreeks ontstaan het. “True’s Bob!” Maar, soos talle stories, het hierdie een ook 'n interessante aanloop.

 

Eion du Toit, vinofiel en etnograaf (kommersiële antropoloog), verskaf die kap agter die byl: "Ek speel al lank met die gedagte om 'n unieke wynetiket te ontwikkel rondom rooiwyn wat sag en lekker op die tong lê. En toe tref 'n idee my in 'n gestalte wat ek nooit kon verwag nie!"

 

Du Toit het saam met vriende in Bloemfontein om die braaivleisvuur gekuier toe die formidabele Os du Randt, bekend vir sy “gees”, daar opdaag. Os het gou besef die makietie kort lewe. Hy sit toe sommer net daar die gasvrou se wit hoedjie op sy kop en gee die klanke van U2 bietjie “volume”. En net daar vat die paartie vlam, en Du Toit is agter Os se bloed aan. “In a manner of speaking.”

 

Die volgende dag op pad lughawe toe tref dit hom soos 'n klassieke Os-laagvat: Osbloed! Neem 'n sagte Kaapse versnit, bekroon dit met 'n etiket van Os met daai wit hoedjie op en jou kop is deur. Hy bel op die daad vir Os. Die blonde reus spreek sonder meer sy seën oor die konsep uit.

 

Agterna het sake met 'n spoed verloop. Du Toit, 'n boorling van die Paarl, vorm 'n dinkskrum met een van sy kliënte, die wingerdboer Joachim Steyn. Daaruit spring toe die verspreidingsmaatskappy, TEN90 Wines, vir konsepontwikkeling.

 

Volgende probleem: ‘n wynmaker! Geen probleem nie. Steyn stel voor hulle gebruik vir Theunis van Zyl, wynmaker en eienaar van Imbuko. Van Zyl vat die gaping en 'n week later is die drie wynmanne hard aan die versny en proe.

 

Dis dan die storie agter die storie. Die Osbloed-wynreeks beloof om iets werklik besonders te wees. En, kan jy maar sê, dit was nog altyd in Os se bloed!

 

Die Osbloed-reeks bestaan uit twee wyne, die Osbloed Cape Blend 2010 (links) en die Osbloed Rosé 2011 (regs). Die Osbloed Cape Blend is ‘n fluweelsagte versnit van cabernet sauvignon, pinotage en shiraz, terwyl die effe soet Rosé van pinotage-druiwe gemaak is.

 

Die Cape Blend kos R49 per bottel, terwyl die Rosé jou R45 uit die sak sal jaag. Die wyne is by Imbuko se proelokaal tussen Wellington en die Paarl verkrygbaar, maar sal glo eersdaags ook landwyd te koop wees.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram