Spoggerige MCC sluit by Stellenbosch Hills se Sense of Place-reeks aan

Stellenbosch Hills het sy vlagskip-wynreeks, Sense of Place, uitgebrei met ’n windmakerige Méthode Cap Classique (overgeset synde, ’n spoggerige sjampanje!). Die Anna Christina MCC 2018 is gemaak van 1005 chardonnay-druiwe en is in beperkte hoeveelhede beskikbaar.

Maar wie is (of was) Anna Christina? Wel, sy was die oudste dogter van ’n bekende Stellenbosse wynpionier, Antonie Vlotman. Vlotman was die eerste wynboer in die Vlottenburg-area, vandag die tuiste van Stellenbosch Hills. Die Vlottenburg Kelder is in 1945 gestig en het in 2003 sy naam na Stellenbosch Hills verander.

Hierdie sjampanje is aanloklik elegant en vertoon geure van vars Granny Smith-appels en sitrus-bloeisels, met ’n neut-gisagtigheid in die neus. Vars suur kielie die goed gebalanseerde smaak, terwyl ’n delikate mousse met elke teugie ’n bevredigende volronde liefkosing op die tong verseker.

Die Anna Christina MCC 2018 is ’n nuwe toevoeging tot Sense of Place, Stellenbosch Hills se vlagskipreeks wat die kollig laat val op die Stellenbosch-wingerde se terroir. Die Sense of Place-reeks bestaan uit ’n gehoute Chenin Blanc genaamd Kastanjeberg en ’n Kaapse versnit bekend as Suikerboschrand.

Die druiwe vir die sjampanje is met die hand gepluk en met ’n pneumatiese pars fyn gedruk wat die delikate onttrekking van die beste sap toegelaat het. Die Anna Christina MCC is toe in die tradisionele  Franse sjampanje-metode gemaak.

“Ons is baie trots op hierdie wyn,” sê James Ochse, die wynmaker. “Die 2018-oesjaar het al die eienskappe om oor die volgende vier tot ses jaar bykomende rykheid en kompleksiteit te verkry.” Hy sê dit moet yskoud geniet word en is die ideale pasmaat vir vars oesters of patee.

Die Anna Christina MCC 2018 is by die kelder beskikbaar en ook by eksklusiewe wynwinkels regoor die land. Dit kos sowat R195 per bottel.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>