Al gesien hoe ‘n Labrador Retriever agter ‘n bal aanhol? Of hoe ‘n ANC-politikus desperaat agter ‘n soustrein aanjaag? Wel, dis soos ‘n groepie mediamense gister die wonderlike geure van die Stellenbosch Wynfees gejag het – van Die Volkskombuis deur Blaauwklippen tot by 96 Winery Road.
Dit was so ‘n voorsmakie van wat op besoekers aan vanjaar se Stellenbosch Wynfees wag wat vanaf 30 Julie tot 2 Augustus in die Paul Roos-sentrum op hierdie pragtige Bolandse dorp plaasvind, want sien, daar’s vanjaar ‘n splinternuwe Fynproewerslaan waar feesgangers betower sal word met opwindende disse uit die wynland se beste restaurante.
Die eksklusiewe Fynproewerslaan bestaan slegs uit gesiene restaurante soos 96 Winery Road, Overture, Terroir, Joostenberg Bistro, Blaauwklippen en die Volkskombuis wat hul beste disse sal voorsit aan feesgangers. Dit is restaurante soos dié wat eie is aan Stellenbosch se gewilde reputasie as ‘n hooggeagte wyn- en fynproewerbestemming met nie minder nie as drie plaaslike restaurante wat naam maak in Eat Out 2009 se top-tien-lys.
Links: Die pragtige Annareth Bolton gee ekstra glans aan die hoofgereg en wyn wat op Blaauwklippen geniet is.
Ons groepie het begin met voorgereg by Die Volkskombuis waar nie minder nie as vier voorgeregte (in heerlike happiegrootte) voorgesit is met gehoute chardonnay en merlot uit die Stellenbosch-omgewing. Toe’s ons Blaauwklippen toe vir ´n watertand-hoofgereg, weereens voorgesit met plaaslike merlot, en toe het ons die pad gevat 96 Winery Road toe waar nagereg bedien is, weereens drie verskillendes in happiegrootte.
Eintlik was Annareth Bolton, hoofmeisie van die Stellenbosch-wynroete, baie wreed want om mens se mond só uit te lok en jou dan weer huistoe te stuur, grens aan sadisme! Maar sy’s so naais, ons het haar klaar vergewe.
Benewens die fynproewerdisse, sal die Fynproewerslaan ook uitmuntende wyne saam met die disse voorsit. Elke restaurant het ‘n wynlandgoed ingespan om ‘n heerlike kombinasie van kos en wyn wat mekaar komplimenteer, aan feesgangers te bied. Disse by die fynproewerslaan wissel tussen R30 – R40.
Feesgangers kan ook by die Clover-demonstrasiekombuis aanklop waar bekende sjefs wonderlike disse sal voorberei met prettige temas soos Get your Game On, Kaas is Baas, Supernatuurlike Sampioene, ‘n Onvergeetlike Spyskaart en Jongspan met Clover. Lootjies sal by elke demonstrasie verkoop word vir die kans om ‘n wonderlike Clover-geskenkpakkie te wen ten bate van die Mama Afrika-projek.
Regs: "Death by dessert!" soos by 96 Winery Road.
Die Stellenbosch Wynfees is lank reeds ‘n tradisie tydens die wintermaande en lok talle plaaslike en internasionale besoekers. Vanjaar sal feesgangers meer as 500 wyne en fynproewerhappies onder een dak kan geniet met lekker plaaslike vermaak wat skrik vir niks nie.
Kaartjies vir hierdie fees der feeste is beskikbaar by Computicket vanaf R100 per persoon tot R300 vir ‘n goue kaartjie wat die hele fees dek.
Vir meer inligting, spesiale akkommodasie- en toerpakette, skakel 021-886-4310 of besoek www.wineroute.co.za.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast