Spesiale wyn vir liefdadigheid van Nederburg se Razvan Macici

Date posted:
June 26, 2009

Razvan Macici, wat twee van die belangrikste pryse ter wêreld vir shiraz vir Nederburg gewen het, het ’n unieke mikro-cuvée van dié druifsoort gemaak om die 35ste aanbieding van die Nederburg-veiling en 350 jaar van wynmaak aan die Kaap te gedenk. Net 300 liter van die 2007-Shiraz van ’n enkele wingerdblok in Philadelphia is gemaak vir die liefdadigheidsveiling wat onmiddellik ná die Nederburg-veiling op Saterdag, 12 September, aangebied gaan word.

 

Macici is die wenner van die Rosemount Estate-trofee vir die beste shiraz ter wêreld wat by die 2007 International Wine & Spirit Competition aan hom oorhandig is, en hy het ook by die 2009 Syrah du Monde die hoogste punte behaal. Hy noem die spesiale nuwe wyn Tribute.

 

“Ons wil al die legendariese name in wynmakery wat Nederburg se geskiedenis help vorm het en ons inspirasie was, en veral Johann Graue en Günter Brözel, hiermee eer. Ons wil natuurlik ook erkenning gee aan die talle ander groot name in die annale van Suid-Afrikaanse wynmakery,” sê Macici, wat die wyn skenk sodat dit ten bate van die Nederburg-liefdadigheidstrust opgeveil kan word.

 

“Daar is drie stelle wyn vir die veiling. Elk sal as ’n enkele lot verkoop word, en sal agt bottels insluit, van ’n standaard-750ml tot ’n melchior van 18 liter. Daar is ’n magnum, dubbelmagnum, jereboam, rehoboam, imperial, methuselah, balthazar en meer. Elke bottel in elke stel kry ’n individuele kis. Vir diegene wat eerder ’n enkele bottel wil koop, word 30 individuele bottels van 3 liter aangebied.”

 

Die druiwe vir die Tribute, wat met die hand gepluk en uitgesoek is, kom van dieselfde blok as dié vir die wyn wat die Rosemount-trofee gewen het, en het “’n ryk kleur met ’n wonderlike balans tussen ryp tanniene, vrug en suur,” sê Macici. Die wyn het 24 maande in nuwe hout deurgebring.

 

Nederburg se handelsmerkbestuurder, Dè-Mari Kellerman, sê al die geld wat geïn word, sal gelykop onder die drie begunstigdes van die Nederburg-liefdadigheidstrust verdeel word. Hulle is Hospice Palliative Care Association of South Africa, die Orgaanskenkerstigting en Mothers2Mothers, ? organisasie wat steun verleen aan Vigslyers onder vroue.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram