Soave: Die Wit Juweel van die Veneto

Die Veneto-streek in die noordooste van Italië is die tuiste van sommige van dié land se beste rooiwyne. Die streek strek van die Dolomietberge tot by die Adriatiese See. Wynliefhebbers weet uiteraard van Amarone, en in ’n mindere mate van Valpolicella, en van die baie gewilde Valpolicella Ripasso, maar Veneto is ook die tuiste van twee puik en inheemse witwyne, asook ’n hele rits ander wyne uit wingerde op die wydverspreide vlaktes wat minder geskik is vir rooiwyn.

Wat die streek se witwyn betref, moet mens veral dink aan Soave uit die vulkaniese heuwels in die ooste van die provinsie en Lugana uit die weste as die “tweeling-juwele van die Veneto”.

Vandag gaan ons bietjie fokus op Soave. Die hedendaagse Soave-wyne is uitstekend, soos die beste voorbeelde daarvan altyd was. Hulle is sowel vars as ryk en word hoofsaaklik van die garganega-kultivar gemaak. Soave bied die wynliefhebber ’n wyn wat in ’n medium-styl gemaak word met die vrugte van ’n warm klimaat, ryk in perske- en suurlemoenskilgeure, maar terselfdertyd bied dit soveel meer om ontdek te word.

Garganega word verbou in grond wat wissel van matig tot sterk vulkanies in oorsprong en Soave vang die mineraliteit van dié grond vas, inderwaarheid enige vuursteenagtige karakter wat hierdie grond aan die wyn kan verleen. Die wyn is egter nie bloot grondgedrewe nie, maar kombineer toeganklikheid pragtig met kompleksiteit.

Goeie Soave verouder ook uitstekend.  Hoewel dit sommige van die vrugtegeure van sy jeug verloor, verkry dit groter fokus en diepte in die mond en kom sy subtiele sekondêre karakter na vore terwyl al hoe meer van die mineraliteit wat sowel die geure as die struktuur van die wyn onderskraag, bloot gelê word.

Die meeste Soave-produsente bied vandag ’n reeks wyne onder Soave-etiket, van Soave Classico – ’n enkelwingerdwyn – tot ’n tete de cuvee-aanbieding.

Probeer ’n bottel (of meer) in die hande kry en sit jou wynreis van ontdekking en verkenning voort. Tjorts!

(Bron: SNOOTH)

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>