Skaars Zonnebloem-magnums nou beskikbaar

Date posted:
September 1, 2009

Zonnebloem het pas twee spesiaal uitgesoekte, optimaal verouderde 2002-rooiwyne wat in ekstra groot magnums beskikbaar is, vrygestel.

Dié twee, Zonnebloem se Merlot en Shiraz, wat slegs by Spar beskikbaar is, sal beslis jou tafelgenote by enige feestelike geleentheid in vervoering hê.

Zonnebloem, een van Suid-Afrika se eerste vername wynhandelsmerke, is steeds bekend vir hul volronde rooiwyne wat die toets van tyd deurstaan. Hierdie twee wyne, wat na hul aanvanklike vrystelling sorgvuldig onder perfekte omstandighede verouder is, is geen uitsondering nie en is nou in 1,5 liter-magnums beskikbaar.

Die Zonnebloem Merlot 2002 is propvol opvallende vrugte-aromas met aanloklike sweempies van viooltjies, kersies en sjokolade in die neus, terwyl die smaak behaag met hope vrugtegeure aangevul deur 'n tikkie eikehout-speserygeure.

Die Zonnebloem Shiraz 2002 is 'n medium-vol wyn wat oorloop van pruim- en bessiegeure in die neus, terwyl die smaak ryk is aan gedroogte vrugtegeure en speserye met ondertone van hout en vanielje in die agtergrond.

Die geskiedenis van Zonnebloem dateer terug uit die vroeë agttiende eeu. Vandag word hierdie tydlose tradisie steeds voortgesit, van die wingerde wat reeds vir drie generasies deur dieselfde wingerdboere versorg word tot by die noukeurige wynmaakpraktyke wat in die kelder gevolg word.

Dié sorgvuldigheid verseker ‘n reeks puik, handgemaakte wyne wat gepamperlang word totdat hul kwaliteit vervolmaak is voordat dit vrygestel word. Die volronde wyne is goed gestruktureer om die prominente verskeidenheid van karakters deur te gee, maar bly toeganklik met ‘n sagte mondgevoel.

Die Zonnebloem Merlot 2002 en Zonnebloem Shiraz 2002 is slegs by Spar-takke landwyd beskikbaar teen R119-95 per bottel.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram