Sjampanje: Kies joune met oorleg … en drink die sterre!

Afrikaans is darem ’n wonderlike taal! In Engels mag mens net van Champagne praat as die vonkelwyn uit die Champagne-streek van Frankryk kom, maar hier aan die suidpunt van Afrika kan niemand ons hof toe sleep as ons na ons eie Méthode Cap Classique (of MCC) as sjampanje verwys nie. En net so terloops, MCC word op presies dieselfde manier as Méthode Champenoise gemaak, en van dieselfde kultivars, naamlik chardonnay, pinot noir en pinot meunier.

En as jy wyn as ’n reis van ontdekking beskou eerder as ’n bestemming, sal jy ook bewus wees van MCC wat van chenin blanc en sauvignon blanc gemaak word, om maar net twee “vreemde” kultivars te noem wat plaaslik vir sjampanje gebruik word.

Maar hoe kies mens sjampanje sonder ’n bietjie kennis? Wel, lees verder en doen daai bietjie kennis op.

Nes in Frankryk, Italië, Spanje en Portugal is daar duurder en goedkoper (oeps, bekostigbaarder!) sjampanjes in Suid-Afrika. Prys moet egter nie die grootste oorweging wees wanneer mens sjampanje koop nie, eerder die smaak. Wat verkies jy, ’n romerige vonkel met geroosterde geure, of droog en lenig?

Kom ons kyk na ’n paar faktore wat jou besluit mag beïnvloed.

Sjampanje se produksieproses.

Suikervlakke

Brut Nature, Extra Brut, Brut, Extra-Dry, Dry en Doux

Alle sjampanjes se suikervlakke word op die etikette aangedui. Die suikervlak of soetheid in sjampanje is anders as soetheid in wyn want hierdie soetheid kom in die vorm van ’n versoete dosage, ’n mengsel van wyn en suiker of druiwemos, wat aan die einde van die tweede gisting bygevoeg word (die deel wat vir die borrels verantwoordelik is).

Die dosage is belangrik want die suur is gewoonlik so hoog dat die wyn daarsonder ondrinkbaar sou wees.

Net so terloops, die meeste sjampanjes (of MCC’s) word teen die Brut-vlak se soetheid gemaak. Hier is die suikervlak- of soetheidsterme en wat hulle beteken:

Brut Nature: Kurkdroog (0–3 g/ℓ suiker). Geen bygevoegde soetheid met slegs 0–2 suikerkalorieë per glas.
Extra Brut: Kurkdroog (0–6 g/ℓ suiker). ’n Titsel bygevoegde soetheid om sjampanje se natuurlike hoë suur te belanseer. 0–5 suikerkalorieë per glas.
Brut: Droog (0–12 g/ℓ suiker). Die gemiddelde sjampanje-dosage is gewoonlik om en by 6–10 g/ℓ wat “gewig” verleen. Omdat die vonkelwyn hoog in suur is, smaak dit gewoonlik droog of selfs kurkdroog. Brut bied net 5–7 suikerkalorieë per glas.
Extra Dry: Vrugtig (12–17 g/ℓ suiker). Die soetheidsvlak is steeds laag genoeg sodat Extra Dry meestal droog proe, maar met ’n meer vruggedrewe karakter. Dit voeg 7–10 suikerkalorieë by die glas.
Dry: Effe Droog (17–32 g/ℓ suiker). Dis ’n vrugtige en soms soet styl van sjampanje met ’n voller “lyf” en tekstuur. 10–20 suikerkalorieë per glas.
Demi-Sec: Soet (32–50 g/ℓ suiker). ’n Opvallend soet styl wat perfek is saam met nageregte, kaas of neute. Dit voeg 20–30 suikerkalorieë in die glas.
Doux: Soet (50+ g/ℓ suiker). ’n Nagereg-styl wat deesdae skaars is. Baie soet vrugtegeure en pas perfek by romerige nageregte (sonder sjokolade). Meer as 30 suikerkalorieë per glas.

Style

Standaard, Blanc de Blancs, Blanc de Noirs, Rosé

Daar is hoofsaaklik 3 druifsoorte wat gebruik word om sjampanje (of MCC) te maak. Hulle is Chardonnay, Pinot Noir en Pinot Meunier. Vir diegene wat nie weet nie, daar is ook vier baie skaarser druifsoorte wat vir sjampanje gebruik word, naamlik Arbane, Pinot Blanc, Petite Meslier en Fromenteau. Soos reeds genoem, in Suid-Afrika word MCC onder meer ook van Chenin Blanc en Sauvignon Blanc gemaak.

Hoe hierdie druiwe gebruik word (of NIE gebruik word nie), gee ’n idee van die styl. As sjampanje nie ’n styl op die etiket dra nie, kan aanvaar word dat die wynmaker ’n versnit van al drie druifsoorte in ’n blanc-styl (wit) gemaak het.

Blanc de Blancs

“Wit van wit” is ’n styl van sjampanje wat gemaak word van 100% wit druiwe. In Champagne (en ook in SA) beteken dit die vonkelwyn is 100% Chardonnay. Blanc de Blancs het tipies meer suurlemoen- en appelagtige geure.

Daar is uiteraard ’n paar skaars uitsonderings op hierdie reël met ’n paar baie skaars druifsoorte, maar in die meeste gevalle word Blanc de Blancs van 100% Chardonnay gemaak.

Blanc de Noirs

“Wit van swart” is ’n styl wat uitsluitlik van swart of rooi druiwe gemaak word. In Champagne beteken dit dat ’n kombinasie van Pinot Noir en Pinot Meunier gebruik word. In Suid-Afrika word Pinot Noir gebruik en soms ook in kombinasie met Pinot Meunier.

Blanc de Noirs bied tipies meer geure van aarbei en wit framboos.

Rosé

Hierdie pienk styl word gewoonlik gemaak deur blanc sjampanje met ’n bietjie rooi Pinot Noir of Pinot Meunier te versny.

Die rooiwyn wat vir sjampanje gemaak word, verskil baie van die Pinot Noir wat mense ken. Die doel daarvan is om vrugtegeure soos aarbei en framboos by die smaak te voeg. Dit vat nie baie rooiwyn om ’n rosé te maak nie. Baie produsente gebruik sowat 10% Pinot Noir of selfs minder om hul rooskleurige sjampanjes te skep.

Die korrekte manier om vonkelwyn te skink.

Veroudering

Oesjaar- vs Nie-Oesjaar-Sjampanjes

Een van die aspekte wat die minste bespreek word en tog uiters belangrik is vir die smaak van sjampanje, is die tyd wat dit verouder is. Om sjampanje te verouder op die moer (of tirage) gee daaraan meer broodagtige, roosterbroodagtige en neutagtige aromas, die kenmerke van ’n uitmuntende vonkelwyn.
Die beste produsente met die mees “neutagtige” sjampanjes verouder hul vonkelwyne op tirage vir tussen 5 tot 7 jaar voor bekendstelling. Hoewel die tirage-tyd gewoonlik nie genoem word nie, is ’n oesjaar op die etiket ’n goeie aanduiding.

Nie-Oesjaar (NV): Verouder vir ’n minimum van 15 maande. Nie-Oesjaar- (NV) sjampanje bestaan sodat produsente elke jaar min of meer dieselfde styl kan skep (ongeag die gehalte van die oes). Die meeste NV-sjampanjes is vrugtiger en minder “broodagtig” as oesjaarstyle.

Oesjaar (Vintage): Verouder vir ’n minimum van 3 jaar. In jare wat die oes besonder goed is, skep produsente enkeloesjaar-vonkelwyne. Die meeste streef na ’n romerige en gisagtige styl in hierdie verouderingskategorie.

Nes in die geval van tafelwyn is sjampanje ’n baie persoonlike en subjektiewe saak. Kies die vonkels wat jou die meeste genot gee, maak nie saak van handesmerk, prys of toekennings nie, maar wees avontuurlik en geniet die wonderlike reis van ontdekking en verkenning.

En onthou wat Dom Perignon uitgeroep het toe hy die eerste keer Champagne geproe het: “Ek drink die sterre!”

Tjorts!

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>