Sit die opwindende reis voort met onbekende, skaars en nuwe wyne!

Wyn is persoonllik en subjektief, maar dis ook uiters dinamies, en daarom is dit nie ’n bestemming nie, maar eerder ’n wonderike reis van ontdekking en verkenning. Dis ’n reis wat mens nie net na verskillede wyne neem nie, maar, as jy gelukkig is, ook na verskillende plekke. En na verskillende mense. En verskillende ervarings.

My persoonlike wynreis, wat so 20 jaar gelede afgeskop het, het my reeds na verskillende wynproduserende lande geneem waar ek bekende sowel as onbekende wyne geproe en ervaar het. In lande soos Hongarye, Kroasië, Slovenië, die Tsjeggiese Republiek en Switserland het ek die voorreg gehad om wyne te geniet waarvan ek nog nooit eers gehoor het nie! Selfs in Portugal, Spanje en Italië is ek aangenaam verras en het my wynreis my na nuwe ervarings gevat en my maar net weer eens oortuig dat mens nooit moet ophou soek en proe nie.

Maar dis nie net in die buiteland waar ek al interessante en nuwe wyne geniet het nie. Hier op eie bodem is daar ook wyne wat wag om ontdek en verken te word, wyne wat onbekend of minder bekend is, wyne wat nog nie die hoofstroom gehaal het nie, wyne wat die reis soveel interessanter en opwindender maak.

Hier’s ’n paar wat die afgelope jaar of so oor my pad gekom het:

De Krans Tritonia Calitzdorp Blend

De Krans in die Klein Karoo is nie net bekend vir sy portwyn van wêreldgehalte nie, maar ook vir sy tafelwyne van tradisionele Portugese portkultivars. Daar is twee De Krans Tritonia-wyne, ’n rooie en ’n witte. Die rooie is ’n versnit van touriga nacional, tinta roriz en tinta barocca. Die komponente word afsonderlik verwerk. Na appelmelksuurgisting word die komponente in tweede- en derdevul- Franse eikehoutvate verouder vir 12 maande en daarna vind die versnyding plaas.

De Krans Tritonia Calitzdorp Blend het ’n donker pruimkleur en bied die neus aromas van framboos, pruimedant en moerbei, met sweempies donker sjokolade en speserye. In die mond vertoon dit volrond met geure van viooltjies en donker vrugte, goed-gestruktureerde tanniene en puik hout-integrasie.

Geniet hom saam met disse soos wildsvleis, volstruis, oondgeroosterde lamsboud of beesfilet.

O ja, onder sy toekennings tel ’n trofee van die Old Mutual Trophy Wine Show, ’n goue medalje by die Six Nations Wine Challenge en 4½ sterre in die Platter-wyngids.

De Krans Tritonia Malvasia Rei Verdelho

De Krans se “vergete” malvasia rei-wingerd (ook bekend as palomino) is reeds in 1947 geplant, hoofsaaklik met die oog op die maak van brandewyn. Vandag word dié druiwe saam met verdelho gebruik om die landgoed se vlagskip-witwyn te maak. Nes met die rooi versnit, word die komponente vir hierdie wyn afsonderlik verwerk. Die verdelho word in houtvate gegis en vir 4 maande op die moer gelos.

Hierdie witte is goudgeel in kleur en stel aromas van kamferfoelie, lemoenskil en strooi ten toon wat uitloop in ’n kaleidoskoop van blombloeisels, speserye en vanielje-eikehout. Dis glad en elegant in die mond met geure van gedroogde lemoen, neute en sagte eikehout. Fyn tanniene en geïntegreerde suur rond hom af.

Geniet hom saam met seekos, veral salmforel en kabeljou.

Negentig punte in sowel Robert Parker se Wine Advocate en by Christian Eedes, en ’n silwer medalje op die Trophy Wine Show van 2017, almal vir die 2015-oesjaar, vertel die hele storie.

De Krans A Twist of Fate

Hierdie “huwelik van twee tintas” sal nie net ’n groot glimlag op jou bakkies sit nie, maar sy storie sal jy net so geniet.

Tinta barocca was die eerste Portugese kultivar wat in 1973 sy pad na die Klein Karoo gevind het. Dit was egter heel onbeplan aangesien die Nel-familie onder die indruk was hulle het shiraz geplant. Eweneens is tinta amarela in 2004 geplant pleks van tinta roriz! Die noodlot (oftewel a twist of fate) het dus tot die skep van hierdie heerlike rooiwyn gelei.

Die twee kultivars word tegelykertyd ge-oes en die sap word toegelaat om natuurlik te begin gis. Sodra gisting begin, word die vryloopsap afgetap en afgekoel. Na gisting word appelmelksuurgisting toegelaat waarna die wyn vir 12 maande in ouer Franse eikehoutvate van 300 liter verouder.

A Twist of Fate het ’n pragtige kersierooi kleur en ’n boeket van soet aarbeie en rooi kersies met komplekse aromas van speserye, leer, aardsheid en subtiele eikehout. Die mond word bederf met rooi kersie- en speserygeure, terwyl sagte tanniene en goed-geïntegreerde suur mens na smag na die volgende glas.

Hierdie is my “Tassies”!

Allesverloren Tres Vermelhos

Hierdie elegante rooi versnit van souzao, tinta barocca en touriga nacional is klinkklare bewys dat daar net sulke goeie tafelwyn as portwyn gemaak kan word van tradisionele Portugese portwynkultivars.

Tres Vermelhos (wat “drie rooies” beteken) is donker rooi in kleur en stel aromas van rooi bessies en donker sjokolade met sweempies speserye vry in die neus, terwyl die mondgevoel seepglad is en ’n goeie konsentrasie van soet, rooi vrugte bied.

Geniet hom gerus op sy eie of saam met lig gegeurde Thai- en Indiese disse.

Diemersdal Grüner Veltliner

Thys Louw van Diemersdal het sy innoverende slag ten toon gestel met die bekendstelling van Suid-Afrika se heel eerste Grüner Veltliner, Oostenryk se gewildste en mees aangeplante witwynkultivar. Die wyn is gemaak van druiwe uit ’n wingerd van 3 hektaar wat in 2010 aangeplant is.

In die glas vertoon die wyn lig groen in kleur en stel dit aromas van groen appel, kruie, brandnetel en tropiese vrugte vry. Die wyn is medium in “gewig” met ’n gekonsentreerde mondgevoel en ’n talmende, mineraalagtige nasmaak.

Grüner Veltliner is ’n sogenaamde kosvriendelike wyn wat regoor die wêreld byval vind, veral in die VSA en die VK. Die wyn se mineraliteit en vars suur komplementeer ryk gegeurde disse soos tradisionele Wiener Schnitzel, speseryagtige disse uit Asië en sagte kase. Dit kan ook sy man staan teen meer uitdagende kos-uitdagings, soos artisjokke, aspersies en souterige seekosdisse.

Lemberg Hárslevelü

Ek het etlike jare gelede die eerste keer in Suid-Afrika met hierdie Hongaarse kultivar kennis gemaak tydens ’n besoek aan die Tulbagh-wynstreek. Dit was op die Lemberg-landgoed (die wingerd is in 1983 aangeplant) en hul Hárslevelü het onmiddellik indruk gemaak. Jare later het ek hierdie witwyn in Hongarye self ervaar, saam met ’n eg Hongaarse dis, en was ek weer eens beïndruk met die wyn se vermoë om ’n puik kosmaat te wees. Dis glo ook ’n eerstehandse versnitkomponent en kan selfs as soetwyn uitblink.

Lemberg se Hárslevelü word op ’n meer natuurlike en minimalistiese manier en in ’n meer oksidatiewe styl gemaak. Die wyn is vir 10 maande in Franse eikehoutvate van 500 liter verouder en vertoon aromas van wit blomme, perske en speserye wat ’n getekstureerde, vars mondgevoel en puik lengte tot gevolg het. Dit het ’n talmende, vars en lewendige nasmaak en puik suur.

Net so terloops, die naam hárslevelü beteken lindenblaar.

Ayama Vermentino

Vermentino het sy oorsprong in Sardinië, en ’n glas van hierdie witwyn uit die wingerde van hierdie eiland aan die westekant van Italië bied lewendige aromas van peer, wit perske, lemmetjie en pienk pomelo met sweempies sitrus en gebreekte klip. Dis feitlik altyd ’n droë wyn met ’n effense olierigheid en geure van pomelo en sitrus, mineraliteit en soutigheid in die mond. Die nasmaak kan bittering wees en herrinner aan die pitte van pomelo, maar as dit effe ryper is, kan dit herrinner aan amandels.

Ayama se Vermentino is halfpad deur die gistingsproses na ouer, meer neutrale vate oorgeplaas en die wynmaker is van mening dat hierdie wyn ’n “fantastiese Suid-Afrikaanse weergawe” is van sy Sardiniese familielid.

Nou-ja, as jy nog nie een van hulle ervaar het nie, is dit dalk tyd dat jy jou wynreis bietjie uitbrei. En as jy van enige ander wyn weet wat vreemd, onbekend, minder bekend, interessant of nuut is, laat weet gerus. Reis voort!

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>