Sir Percy bult sy Bilton-spiere

Date posted:
April 26, 2009

“Twingo, Twingo little star, how I wonder what you are …” Pure pret en plesier, my broe, en deksels ougat so oppie koop toe!

 

Toemaar, ek het nie die kluts kwyt geraak nie en jou oë bedrieg jou nie. Een van die voordele van ‘n oud-motorjoernalis wees (oud in meer as een opsig!), is dat jy soms bevoorreg is om baie jare na die tyd (in hierdie geval dekades!) die kans gebied word om sommige van vandag se motorvoertuie te bestuur. Net om weer die petrol/diesel terug in jou are te sit. En in my geval werk dit goed want petrol en diesel kombineer skynbaar goed met wyn!

 

So leen Renault mos toe vir my ‘n parmantige en ougat klein Twingo vir ‘n paar dae en vat ek die pad met hom na die Bilton-wynlandgoed, geleë teen die hange van die Helderberg net buite Stellenbosch, vir die vrystelling van hul rooi jentilmin, Sir Percy 2005.

 

Kyk, Bilton is juis bekend vir hul voortreflike rooiwyne, en die vrystelling van die tweede oesjaar van hul vlagskip sou ek vir bittermin mis. Ek het per slot van sake ‘n model of twee van die vorige oesjaar in my ou versamelinkie gehad, maar die versoeking was ‘n paar keer net te groot en hulle het nie kans gekry om goed te verouder nie!

 

Die Sir Percy 2005, ‘n ryk, Bordeaux-styl versnit van cabernet sauvignon (65%), merlot (18%) en petit verdot (17%), is ‘n huldeblyk aan die Bilton-patriarg, Sir Percy Bilton, wat tot ridder gelaan is deur Koningin Elizabeth vir sy liefdadigheidswerk. Die 2005-oesjaar is ‘n spogwyn wat “The Pioneer” genoem word as ‘n huldeblyk aan die baanbrekergees van Sir Percy wat Afrika in die 1940’s besoek het en sy tweede tuiste hier gevestig het.

 

Die twee meesters agter hierdie (hard)-vogtige skepping is Bilton se wynmaker, Rudi de Wet, en konsultant, Giorgio Dalla Cia.

 

Die Bilton Sir Percy 2005 is vir 22 maande in Franse, Amerikaanse en Hongaarse 300l-eikehoutvate verouder voordat die verouderingsproses in die bottel voortgesit is.

 

“Klassiek, uniek, swaar en volmaak gebalanseerd.” Dit is hoe Rudi die glansryke, geurige wyn met sy sterk tamatieblaar-, truffel-  en wilde bessiekarakter beskryf. In die mond handhaaf die wyn ‘n  wonderlike balans met sy verskillende lae en manlike tanniene wat fluweelsag is, en sy talmende nasmaak skep ‘n herrinnering wat jy nie maklik vergeet nie.

 

Die veelsydige Sir Percy is heerlik op sy eie, maar is ook ‘n voortreflike metgesel vir ‘n sappige beesfilet.

 

Beide die Bilton Sir Percy 2004- en 2005-oesjare is “gebou om te hou”, en is toegeken met 4 sterre in die Platter’s SA Wine Guide. Sir Percy 2005 is ‘n ware versamelstuk wat nog langer as 10 jaar sal hou en is beskikbaar teen ongeveer R155 per bottle by die kelderdeur, voorste wynhandelaars of aanlyn by www.biltonwines.co.za. Vir meer inligting, skakel Bilton by (021) 881-3714.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram