Simonsig vier 50 jaar van Kaapse Vonkel!

Suid-Afrika se heel eerste Cap Classique,  die ikoniese Simonsig Kaapse Vonkel, vier vanjaar sy 50ste verjaarsdag. Tegelykertyd word die halfeeu van die Cap Classique-kategorie ook vanjaar gevier.

Frans Malan, ’n visionêre wynman!

Kaapse Vonkel is in 1971 op Simonsig uit die passie en deursettingsvermoë van die Malan-familie se patriarg, Frans Malan, gebore. Sedertdien het Simonsig en die Malans hierdie pioniersgees voortgesit en Kaapse Vonkel tot ’n internasionale maatstaf van gehalte én vaandeldraer vir Suid-Afrikaans gemaakte, bottelgegiste sjampanje (ja, ons mag dit so noem in Afrikaans!), beter bekend as Cap Classique, ontwikkel.

Om hierdie geleentheid te vier, stel Simonsig vandeesmaand hul Kaapse Vonkel met splinternuwe verpakking én ’n nuwe spogvoorkoms vir die Kaapse Vonkel Satin Nectar en Satin Nectar Rosé bekend.

“Ek is só ongelooflik trots om te sien hoe daardie eerste klein treetjie van my pa se Kaapse Vonkel só ver gevorder het sodat sowat 200 wynkelders in Suid-Afrika nou Cap Classique produseer,” sê Johan Malan, wat onlangs aangewys is as die Diners Club se Wynmaker vir die Jaar 2020 vir die Kaapse Vonkel 2015. “Ek is ook bly dat internasionale wynliggame gereeld die uitmuntende gehalte van die hele kategorie erken.”

Die Kaapse Vonkel Satin Nectar se nuwe verpakking gee ’n  opwindende nuwe tree vorentoe. Dit is ’n kleefomhulsel wat met helder, onmiskenbare ikone uit die Kaapse Blommeryk versier is. Dit verteenwoordig ’n vars, joviale en lewendige aanslag. ’n Spesiale nek-etiket lig die 50ste herdenkingsjaar uit.

Dit was Frans se droom dat die vonkelwyn ook oorsee uitblink en hy het voortdurend gereis om hierdie doel te bereik. Die vloedgolf het in 1995 gevolg toe die International Wine Challenge Kaapse Vonkel die “Koningin van Witwyn” genoem het. Vele ander toekennings het hierna gevolg.

Daai uitbundigheid is welverdiend. Johan Malan en Simonsig se Kaapse Vonkel.

Dit was Frans se wynmakerseun, Johan, wat in 1987 vir die eerste keer pinot noir en chardonnay gebruik het om Kaapse Vonkel te maak. ’n Dekade later is pinot meunier bygevoeg.

Johan het in 1988 die organisasie wat later die Cap Classique Producers Association sou word, begin. Hy is ook die stigtingsvoorsitter. Saam met ander produsente het hulle die nuwe benaming, Méthode Cap Classique, en die tradisionele, Franse produksiemetode in Suid-Afrika  gevestig.

“Die grond vir ons Kaapse Vonkel bestaan uit verweerde skalie. Chardonnay sal in die toekoms selfs nog ’n groter rol in Kaapse Vonkel speel. Om dit moontlik te maak, sal die wyn langer moet verouder. My langtermyn-ideaal is dat dit drie jaar op die moer lê, voor degorgement,” sê Johan. “Tans is ons gemaklik tussen 15 en 18 maande.”

“Ons kyk ook na die moontlikhede wat ander kulitvars soos Pinot blanc bied, veral vir die goeie natuurlike suur waaroor dit beskik. Die lang, moeilike pad is steeds die beste weg!”

Die Kaapse Vonkel Satin Nectar en Satin Nectar Rosé is tot 1 Maart 2021 eksklusief by Woolworths beskikbaar en daarna is hierdie wyne en ander – insluitend groot bottels en ouer oesjare – by die aanlynwinkel by www.simonsig.co.za asook by meeste handelaars te koop.

Besoek www.simonsig.co.za of epos wine@simonsig.co.za vir meer inligting. Volg @SimonsigWines op Facebook, Twitter en Instagram.

Wees deel van die 50 jaar-vieringe op sosiale media:

@SimonsigWines

@CapClassique_SA

#Capclassique50

#SparklewithSimonsig

#PerfectedbyTime

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>