Simonsig buite Stellenbosch het pas sy eksklusiewe nuwe Straw Wine 2009, gemaak van 100% natuurlik songedroogde muscat ottonel-druiwe, die lig laat sien.
Hierdie eeu-oue tradisie om wyn te maak van natuurlik songedroogde druiwe dateer uit vervloë dae. In die Franse wynstreke van Rhone, Jura en Alsace is die druiwe gedroog op strooimatte om die suiker en geure te konsentreer.
Op Simonsig word die druiwe aan die wingerdstokke gedroog deur die stingel van elke tros met ‘n tangetjie te knyp om sodoende die natuurlike vloei van voeding en vloeistof vanaf die wortels na die druiwe te stop. Na ses weke verloor die korrels hul vog en die aromatiese, soet sap en eksotiese muscat 0ttonel-geure word gekonsentreer tot bykans dubbel die oorspronklike suikerinhoud. Hierdie rosynagtige trosse, wat met die hand gepluk en sorgvuldig geselekteer word om slegs die beste gehalte en natuurlike geure in te win, lewer baie min sap – slegs ‘n derde van sy oorspronklike volume.
Die Simonsig Straw Wine 2009 – wat deur die keldermeester, Johan Malan, beskryf word as “pure vloeibare sonskyn in jou glas” – lok met ‘n goue skynsel, intense muskaat-geure en ‘n heuningsoet pittigheid, verryk met ‘n subtiel geroosterde ondertoon afkomstig van die veroudering in Franse eikehout.
Hierdie elegante witwyn, wat in perfekte harmonie met die natuur gemaak is, is sag op die tong met veelvuldige lae gedroogde pere en gekaramelliseerde suiker. ‘n Vleiende soetigheid vloei soos ‘n goue aar deur die wyn en eindig met ‘n heerlike, droërige nasmaak.
Geniet die Simonsig Straw Wine 2009 met malvapoeding; gorgonzola-roomys; gebakte, rooibosgegeurde kaaskoek; foie gras-terrine; ‘n slaai met gerookte eendborsies en gekaramelliseerde haselneute; of sommer net so op sy eie, knus by die kaggelvuur. Die wyn het ‘n rakleeftyd van tot tien jaar.
Die Simonsig Straw Wine 2009, wat slegs in in beperkte hoeveelhede beskikbaar is, kos R115 per bottel en is net verkrygbaar direk vanaf die landgoed.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast