Simonsig stel nuwe Shiraz, MCC Rosé en Frans Malan bekend

Date posted:
June 7, 2012

Innovasie is die sement wat Simonsig buite Stellenbosch se baanbrekerwyne met mekaar verbind, maar hul nuwe Mr Borio's Shiraz 2010 wat pas beskikbaar gestel is, betoon eer aan sement in die letterlike sin en 'n vriend wie se nalatenskap vandag nog in die kelder voortleef.

 

Die Mr Borio's Shiraz bring hulde aan Alessandro Borio, ‘n Italiaanse gevangene van die Tweede Wêreld-oorlog wat na afloop van die stryd Suid-Afrika sy tuiste gemaak het. Sy meesterlike talent in messelary en bouwerk, tesame met sy eksentrieke, kleurvolle persoonlikheid, het 'n ware tuiste by die legendariese Stellenbosse wynlangoed gevind.

 

“Deur elke dag af te skop deur eers ontbyt op sy graaf gaar te maak, het Alessandro, met eienaardige gewoontes en al, die eerste sement-wyntenke op Simonsig gebou. Nie net vorm hierdie handewerk van hom deel van die oudste gedeelte in ons kelder nie, maar word dit steeds vandag gebruik om ons bekende shiraz te produseer,” verduidelik die wynmaker, Johan Malan.

 

In 1993 het ou wingerde plek gemaak vir nuwe plaaslike, Franse en Argentynse shiraz-klone wat geplant is in geskikte grond en op ideale liggings, en sodoende is ‘n dramatiese verbetering in die kwaliteit en karakter van die druiwe bewerkstellig.


Die 2010-oesjaar, wat 'n kleiner oes opgelewer het as wat verwag is, het gelei to tot ‘n buitengewone konsentrasie van geure in die druiwe. Net soos die vele, eiesoortige karaktereienskappe van sy naamgenoot, wen die volronde Mr. Borio’s 2010 jou vriendskap met ‘n komplekse boeket van pruim-, donkerbessie- en swartpepergeure. Lae vanielje koester die tanniene en vorm 'n fluweelgladde en delikate tekstuur, terwyl ‘n tikkie kaneel deurgaans op die tong talm.

Hierdie wyn het 'n uitmuntende verouderingspotensiaal maar kan nou al geniet word, en is ‘n uitstekende keuse saam met wildsvleis, gebraaide ribbitjie of lekker tjops. Jy kan dit ook gerus probeer saam met ‘n stewige tamatiebredie – ‘n persoonlike gunsteling van Mnr. Borio wat gereeld by die Malan-familie vir middagete aangesit het.

 

Mr. Borio’s Shiraz 2010 is landwyd beskikbaar teen sowat R66 per bottel by uitgesoekte wynhandelaars.

 

Kaapse Vonkel Brut Rosé 2011

In 2004 het Johan ‘n innoverende smaak geskep deur drie pinot noirs te versny om die Kaapse Vonkel Brut Rosé bekend te stel, ‘n smaaklike versnit wat ook Suid-Afrika se eie kultivar, pinotage, insluit in kombinasie met pinot noir, een van die twee boustene van pinotage (hermitage/cinsaut was die ander) en pinot meunier.

Links: Of jy nou 'n verfynde dame of 'n regte hardebaard is, hierdie vonkel is vir jou, en daar's darem mos altyd rede om iets te vier!

Hierdie winter sal Simonsig se Kaapse Vonkel Brut Rosé 2011 jou mistige pienk maat wees terwyl jy die lewe geniet, of moontlik saam met ‘n warm kreef thermidor of ‘n ewe dekadente nagereg. ‘n Vertoning van dansende pêrels, bruisende aromas van gemengde roosblare, aarbeie en vars rooi bessies en sweempies lemoenskil wag op jou!

Die derde wyn uit hierdie bekende en bekroonde kelder is die diep Persiese matrooi Frans Malan 2008 wat geure van donker bessies gee wat jou aan black forest-koek laat dink. ‘n Sweempie potlood en sigaarboks vanaf die cabernet smelt saam met die wellustige pinotage in die versnit, terwyl die merlot jou na ‘n veld vol viooltjies vat. Hierdie Kaapse versnit is op sy beste met varkpens wat stadig oondgerooster is.

 

Vir meer inligting of wynbestellings skakel Simonsig by Tel: (+27)21 888 4915 of besoek www.simonsig.co.za.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram