Simonsig se nuwe Pinot Noir Brut Rosé pronk nou eksklusief in Woolworths

Date posted:
November 16, 2010

Die Simonsig-landgoed buite Stellenbosch, wenner van vanjaar se enigste twee dubbelgoue medaljes vir Cap Classique-vonkelwyne op Veritas, het onlangs ‘n nuwe Limited Release Pinot Noir Brut Rosé met geen toegevoegde swaweldioksied (SO2) die lig laat sien, eksklusief beskikbaar by Woolworths. Dit is die eerste Cap Classique Rosé met geen toegevoegde SO2 in Suid-Afrika.

 

Woolworths ondervind tans ‘n groot aanvraag na hierdie innoverende, meer gesondheidsbewuste styl van wyn en pronk met ‘n suksesvolle reeks rooi- en vonkelwyne wat in hierdie styl gemaak word.

 

Die Woolworths Limited Release Pinot Noir Brut Rosé 2009, gemaak van pinot noir (95%) en ‘n titsel chardonnay, smeul van elegansie en finesse met ‘n verruklike pinot noir-vrugkarakter, ‘n delikate mousse en die ligste rooskleurige blos.

 

“Pinot noir is bekend vir sy bydrae tot die volheid en lyf van ‘n gehaltegedrewe Cap Classique. Wat hierdie rooidruifvariëteit so besonders maak, is sy vermoë om ‘n volronde struktuur aan die wyn te verleen sonder om sy delikaatheid en verleidelike finesse te verloor,” vertel Simonsig se keldermeester, Johan Malan, seun van wyle Frans Malan aan wie Suid-Afrika sy eerste Frans-geïnspireerde bottelgegiste vonkelwyn in 1971 te danke het.

 

Die wynmaker beskryf hierdie nuwe, uiters stylvolle, droë pienk vonkelgenot as ‘n “Méthode Cap Classique wat daarin slaag om die sintuie met oorgawe te bevredig“. Die druiwe is tros en al gepars om slegs die suiwerste, beste gehalte druiwesap van die eerste pars, ook bekend as die cuvée, te ontgin. Hierdie tydsame proses beskou Johan as die “maak of breek“-stadium waartydens die meeste van die kwaliteit ingeboesem of verlore kan raak. Die wyn is ook met ‘n spesiale Prise de Mousse-gis behandel om die primêre gistingsproses aan die gang te sit.


“Die tipe gis wat jy kies, is uiters belangrik aangesien party giste eintlik swaweldioksied in die wyn vorm wat ‘n groot probleem is wanneer jy probeer om juis ‘n wyn te skep wat geen toegevoegde swaweldioksied bevat nie. Deur nie swaweldioksied by te voeg nie, behou die wyn meer van sy oorspronklike geure en natuurlike karakter, maar dan is dit baie belangrik dat jy al jou huiswerk goed agtermekaar moet kry en op en wakker in die kelder moet wees om enige oksidasie wat die wyn kan bederf, te verhoed,” verduidelik Johan.    

 

Die Woolworths Limited Release Pinot Noir Brut Rosé 2009 het 14 maande op die gisafsaksels deurgebring wat aan hierdie gesofistikeerde Cap Classique sy indrukwekkende, vrugtige karakter en kompleksiteit verleen.

 

Sensuele aromas van aarbeie en rooibessies lei tot ‘n aanloklike varsheid, ‘n indrukwekkende fyn mousse en subtiele sjarme in die mond. Die wyn het ‘n volronde mondgevoel, dog met ‘n vars intensiteit wat perfek aangevul word met ‘n natuurlike suurgehalte wat lei tot ‘n verfrissende, droë nasmaak.

 

Hierdie vonkel bied elegansie en sprankel aan enige geleentheid en is heerlik net so op sy eie, maar smaak ook vorentoe saam met pluimveedisse, gerookte salm of rooibessie-nageregte. Hierdie Cap Classique sal beslis jou Valentyn se hart warmer laat klop!

 

Die Woolworths Limited Release Pinot Noir Brut Rosé 2009 met geen toegevoegde SO2 kos R99.95 per bottel en is landwyd beskikbaar by uitgesoekte Woolworths-takke.

 

Einde 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram