Simonsig se jongste chenin blanc 'n gemaklike somerdrankie

Date posted:
December 13, 2012

Simonsig net buite Stellenbosch het pas ‘n nuwe oesjaar van die toeganklike, dog geurige Simonsig Chenin Blanc uitgereik,  'n verfrissende wyn wat beslis enige somerdors kan les. Die 2012- Simonsig Chenin Blanc is ‘n móét vir enige wynliefhebber se yskas dié somer.

 

Met 'n kenmerkende nuwe skroefdop wat die kommervrye vrugtegeure van hierdie wyn versinnebeeld, is dit vriendelik op die tong en ideaal om vriende mee te bederf by 'n al fresco-middagete. Chenin blanc was juis die eerste wyn wat Frans Malan, Simonsig se stigter en geliefde patriarg, in 1968 die lig laat sien het. 

 

"Die eerste wyn wat my pa meer as 40 jaar gelede bekend gestel het, was 'n chenin blanc. Met die wonderlike, aromatiese vrugtigheid wat ons terroir in die Groter Simonsberg-area noordwes van Stellenbosch aan die druiwe verleen, is hierdie wyn omvou in lae van intensiteit en kompleksiteit," sê Johan Malan, Simonsig se keldermeester,

 

Met ‘n glas wat oorloop van peer-, koejawel- en spanspekgeure is die ongehoute Simonsig Chenin Blanc 2012 ‘n uitmuntende keuse vir warm somerdae. Dié tropiese geure volg deur tot op die tong waar dit speels talm. Probeer gerus hierdie wyn saam met vars seekosdisse, tradisionele breyani of selfs pikante Meksikaanse tacos.

 

Simonsig se 2012- Chenin Blanc is in 'n jeugdige styl geskep en is op sy beste gedurende die eerste twee jaar vanaf uitreiking. Die wyn is beskikbaar teen R38 by die kelder, asook by supermarkte en drankwinkels landwyd.

 

Vir bestellings of meer inligting oor Simonsig, skakel (021) 888 4915 of besoek www.simonsig.co.za.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram