Simonsig onthul nuwe oesjaar van sy Kaapse Vonkel Brut Rosé

Date posted:
December 6, 2010

Simonsig, skeppers van Suid-Afrika sy eerste Méthode Cap Classique 40 jaar gelede, die ikoniese Kaapse Vonkel, het pas die nuwe oesjaar van sy pienk, sprankelende stalmaat onthul, die Simonsig Kaapse Vonkel Brut Rosé 2008.

 

Hierdie romantiese bederf is ‘n elegante ambassadeur vir Cap Classiques wat pinotage gedrewe is. Die Kaapse Vonkel Brut Rosé 2008 is ‘n stylvolle versnit van 63% van hierdie trots Suid-Afrikaanse druifsoort, klassiek afgerond met pinot noir (29%) en pinot meunier (8%).

 

Die gevolg is ‘n volronde, dog uiters verfrissende droë rosé-vonkelwyn wat met verleidelike rooibessiegeure, finesse en ‘n sysagte volmaaktheid deurgaans met passie en hartstog sprankel.

 

“Hierdie bottle-gegiste rosé, gemaak in die styl van egte Franse sjampanje, spreek van elegansie, kwaliteit en finesse, en was geskep om opnuut die vonkel in jou mees romantiese oomblikke te vier,” vertel Simonsig se keldermeester, Johan Malan. Sy Simonsig Kaapse Vonkel Brut Rosé het vir die eerste keer in 2004 die lig gesien toe hy besluit het om ‘n vonkel-versnit van die drie pinot-variëteite te maak.

 

Simonsig Kaapse Vonkel Brut Rosé 2008 streel die sintuie met ‘n salmpienk gelaat en perfekte, delikate pêrelborrels, terwyl roosblaar- en aarbeigeure in die neus domineer.‘n Fyn, romerige mousse verfris ‘n blomryke boeket in die mond, terwyl ‘n volronde lyf en vars vrugte-intensiteit elegant gebalanseer word met ‘n subtiele suurheid.

 

Simonsig se pienk vonkel verleen romanse en panache aan kersligetes, ‘n piekniek tydens sonsondergang of enige selfbevredigende oomblik. Dit is ‘n uitstekende pasmaat vir kos, maar is ook ‘n puik solo-genot, en beslis ‘n goeie keuse om die vonkel terug in jou Valentynsviering te sit.

 

Probeer die Simonsig Kaapse Vonkel Brut Rosé 2008 gerus saam met gerookte salm, soesji, soet-en-suurdisse, lamsvleis, geroosterde kalkoen, warm nageregte of tropiese vrugteslaai.

 

Dié vonkel is landwyd beskikbaar by uitgesoekte supermarkte en wynhandelaars vanaf R95 per bottel, of bestel dit sommer direk vanaf die landgoed.

 

Einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram