Simonsig, vader van Suid-Afrika se eerste Méthode Cap Classique, die ikoniese Kaapse Vonkel wat vanjaar sy 40ste bestaansjaar vier, het pas die tweede oesjaar van sy Limited Release Pinot Noir Brut Rosé 2010 met geen toegevoegde swaweldioksied (SO2), wat eksklusief beskikbaar is by Woolworths, bekend gestel.
Die 2009-oesjaar was die eerste rosé- Cap Classique met geen toegevoegde SO2 in die land, een van die vele “eerstes” wat Simonsig oor die afgelope vier dekades die lig laat sien het. In slegs een jaar het hierdie Cap Classique groot gewildheid en ondersteuning onder vonkelwynliefhebbers op soek na ‘n innoverende en gesonder styl vonkel gewerf. Woolworths spog tans met ‘n suksesvolle reeks rooi- en vonkelwyne wat in hierdie styl gemaak word.
“Hierdie eksklusiewe Cap Classique is net so lekker soos wat dit gesondheidsvriendelik is. Hy hou ons ook behoorlik op ons tone in die kelder om enige oksidasie wat die wyn kan bederf, te verhoed,” vertel Simonsig se keldermeester en MCC-spesialis, Johan Malan, seun van wyle Frans Malan aan wie Suid-Afrika sy eerste Frans-geïnspireerde bottel gegiste vonkelwyn in 1971 te danke het.
Die Woolworths Limited Release Pinot Noir Brut Rosé 2010 is gemaak van 100% pinot noir-druiwe wat aan hom ‘n ligte, salmkleurige blos en ‘n verruklike aroma van ryp aarbeie en somerbessies verleen.
“Pinot noir is bekend vir sy bydrae tot die volheid en lyf van ‘n gehaltegedrewe Cap Classique. Wat hierdie rooidruifvariëteit so besonders maak, is sy vermoë om ‘n volronde struktuur aan die wyn te verleen sonder om sy delikaatheid en verleidelike finesse te verloor,” verduidelik Johan.
Die druiwe is tros en al gepars om slegs die suiwerste, beste gehalte druiwesap van die eerste pars, ook bekend as die cuvée, te ontgin. Dit is daarna met ‘n spesiale Prise de Mousse-gis behandel om die primêre gistingsproses aan die gang te sit.
Die keuse van die soort gis is uiters belangrik siende sommige giste eintlik swaweldioksied in die wyn vorm wat ‘n groot probleem is wanneer die wynmaker juis poog om ‘n wyn te skep wat geen toegevoegde swaweldioksied bevat nie.
Die Woolworths Limited Release Pinot Noir Brut Rosé 2010 het 12 maande op die gisafsaksels deurgebring wat aan hierdie stylvolle, droë pienk vonkelgenot sy vrugtige karakter, kompleksiteit en indrukwekkende fyn mousse verleen. Die wyn het ‘n volronde mondgevoel, dog met ‘n vars intensiteit wat perfek aangevul word met ‘n natuurlike suurgehalte wat lei tot ‘n verfrissende, droë nasmaak.
Hierdie rosé- MCC is die ideale keuse vir wanneer jy hierdie somer vriende en familie onthaal en is heerlik net so op sy eie, maar smaak ook vorentoe saam met kreef-thermidor, soesjie en sampioen- of truffelrisotto, asook romerige bokmelkkaas.
Die Woolworths Limited Release Pinot Noir Brut Rosé 2010 met geen toegevoegde SO2 kos R99.95 per bottel en is landwyd beskikbaar by uitgesoekte Woolworths-takke.
Vir meer inligting oor Simonsig, skakel 021-888-4915 of besoek www.simonsig.co.za.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast