Simonsig belê in die toekoms van sy plaaswerkers met die opening van ‘n nuwe nasorgsentrum vir skoolgaande kinders op die landgoed. Dit word gedoen in samewerking met die Anna Foundation .
Hierdie naskoolsentrum bied ‘n veilige en stabiele studie omgewing vir skoolgaande kinders vanaf Graad R tot Graad 7 wie se ouers permanent in diens is by dié bekende Stellenbosse wynlandgoed . Dit is die jongste van verskeie projekte wat al deur Simonsig op die been gebring is ter ondersteuning van die volhoubare ontwikkeling van sy werkersgemeenskap.
“Deel van ons beleid is om te verseker dat al die kinders op ons plaas toegerus word met die nodige vaardighede en geleenthede om sodoende hulle self te bemagtig,” verduidelik Francois Malan, Besturende Direkteur en mede-eienaar van Simonsig.
Die nasorgsentrum is ‘n projek wat Simonsig in samewerking met die landgoed se gemeenskapsorganisasie, Reach for Gold, aangepak het. Reach for Gold het bygedra om die sentrum se kombuis toe te rus.
Reach for Gold word deur die provinsiale regering erken as ‘n model van gemeenskapsontwikkeling in boerderygemeenskappe. Hierdie organisasie word bestuur deur ‘n groep permanente werkers en geld word gegenereer deur ‘n aanrolgrasprojek waarvoor die Malan-familie reeds 5 hektaar landbougrond afgestaan het en waarvan die winste dan teruggeploeg word in die gemeenskap.
In sy doelwit om aan die kinders ‘n nasorgprogram van gehalte te voorsien, het Simonsig besluit om kragte te snoer met die Anna Foundation. Hierdie nie-winsgewende organisasie fokus op agtergeblewe skole en gemeenskappe en spits hom toe op lees-, syfer- en-skryfvaardighede en sportontwikkeling.
Die ouers word terselfdertyd aangemoedig om eienaarskap van die nasorgsentrum te neem en om betrokke te raak by die aktiwiteite van die kinders.
Twee opvoeders staan die leerders by met hulle skoolwerk en ‘n klein biblioteek is ook ingerig om hul leesvermoë en kennis te verbreed. Een keer per maand neem die kinders ook aan ‘n landloop- of fietswedren in die omgewing deel.
Simonsig het reeds vir die afgelope 30 jaar ‘n crèche op die plaas en is ook verder betrokke by die nabygeleë Koelenhof RC Primêre Skool.
Simonsig belê voortdurend in die ontwikkeling van sy arbeidsmag, insluitend vaardighede in werksverband, sowel as lewensvaardighede.
Die vestiging van die nasorgsentrum vir skoolgaande kinders is deel van die holistiese benadering wat Simonsig volg in die bemagtiging van sy plaaswerker-gemeenskap.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast