Simonsig onthul nuwe Kaapse Vonkel

Date posted:
May 6, 2010

Die Simonsig-wynlandgoed naby Stellenbosch het pas die 2008-oesjaar van sy veelbekroonde Méthode Cap Classique, Kaapse Vonkel Brut, die lig laat sien. Die Simonsig Kaapse Vonkel Brut is ‘n delikate en verfrissende vonkelwyn (sjampanje in die “ou taal”) met uitsonderlike dimensie en statuur.

 

Kaapse Vonkel, Suid-Afrika se eerste bottelgegiste vonkelwyn wat in 1971 deur wyle Frans Malan onthul is, het tydens die 2009- WINE Magazine Amorim Cork Cap Classique Challenge met dubbele lof koning gekraai.

 

Dié immergewilde Cap Classique het sowel die eerste as die tweede plek behaal met sy 2005-oesjaar, en is geen groentjie as dit by hierdie jaarlikse kompetisie kom nie. In 2002 het Simonsig met sy 1999-oesjaar Kaapse Vonkel die kompetisie se heel eerste titel verower.

 

Die Malans van Simonsig is passievol in voeling met die grond waarmee hulle al vir meer as vyf dekades lank woeker en het oor die jare heen presies geleer hoe om Moeder Natuur se beste na vore te bring.

 

“Ons wyne is die spieëlbeeld van ons terroir. Ons kies druiwe wat afkomstig is van wingerde wat die tipiese geure na vore bring wat eie is aan ‘n spesifieke variëteit,” sê die wynmaker, Johan Malan.

 

Die druiwe wat die Kaapse Vonkel 2008 vervolmaak, is ‘n klassieke simfonie van pinot noir (49%), chardonnay (45%), en pinot meunier (6%). Buiten dat dit die land se eerste vonkelwyn is wat gemaak is volgens die tydsame Franse tradisie, het Kaapse Vonkel ook die eerste Cap Classique geword wat gemaak word van al drie van die klassieke druifvariëteite wat gebruik word in egte Champagne toe pinot meunier in 1997 vir die eerste keer bygevoeg is.

 

“Elk van hierdie drie variëteite speel ‘n daadwerklike rol in die ontwikkeling en vervolmaking van ons geliefde vonkel,” voeg Johan by.

 

Die chardonnay verleen ‘n skoon, sielsverkwikkende karakter en ‘n natuurlike suurgehalte, of soos Johan dit stel, die “ruggraat van die wyn”, terwyl die pinot noir die smaak en volheid vervolmaak, en die aromatiese vrugtegeure van die pinot meunier die keurspel met finesse afrond.     

                                                                         

Die Simonsig Kaapse Vonkel 2008 bekoor met delikate blom aromas, met ‘n sweempie sonryp Golden Delicious-appels en sitrus in die neus. ‘n Klassieke beskuitjie-aroma ontwikkel tot ‘n nostalgiese ervaring van vars gebakte brood op die tong, terwyl die uitsonderlike fyn en romerige mousse ‘n eksotiese smaak van geroosterde amandels op die tong aanvul. Verbeel jou ‘n happie suurlemoentert of jou gunsteling appeltert wat langsaam talm tot ‘n skoon, verfrissende einde in die mond.

 

Hierdie Cap Classique het al die eienskappe om selfs nog meer rykheid en kompleksiteit te ontwikkel oor ‘n tydperk van vier tot ses jaar.

 

Die Kaapse Vonkel is ‘n wyn op sy eie en verleen elegansie en sprankel aan enige geleentheid. Dit is heerlik net so op sy eie maar smaak ook voortreflik saam met vars oesters, geurige patees, ligte soppe, vars vrugte of saam met ‘n delikate soet nagereg.

 

Die Simonsig Kaapse Vonkel 2008 is landwyd beskikbaar by uitgesoekte supermarkte en wynhandelaars, vanaf R85 per bottel.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram