Simonsig kraai koning by WINE se Cap Classique-uitdaging

Date posted:
August 23, 2011

Simonsig, pionier van Suid-Afrika se eerse Méthode Cap Classique – die ikoniese Kaapse Vonkel – 40 jaar gelede, vier sy derde oorwinning by die jaarlikse WINE Magazine Amorim Cork Cap Classique Challenge met sy vlagskip- Cuvée Royale 2005 wat by vanjaar se geleentheid gekroon is as koning van die Cap Classiques.

 

Simonsig, wat geen groentjie is as dit by hierdie jaarlikse kompetisie kom nie, het in 2002 met sy 1999-oesjaar van die Kaapse Vonkel die kompetisie se heel eerste titel verower, en in 1999 het die landgoed skoonskip gemaak deur sowel die eerste as die tweede plek te behaal met die 2005-oesjaar van sy gewilde Kaapse Vonkel. Vanjaar eindig Simonsig die laaste Cap Classique-uitdaging onder die WINE-vaandel op dieselfde hoë noot as toe die kompetisie tien jaar gelede begin het, met die loure!

 

“Dit is so ‘n groot eer om hierdie titel te wen in dieselfde jaar as wat ons die Kaapse Vonkel se 40ste bestaansjaar vier. Ons het die Cap Classique-pas aangegee reg vanaf die begin en sal aanhou om ‘n bydrae te lewer tot die groei in die belangstelling van Cap Classiques onder vervaardigers sowel as die publiek,” vertel Simonsig se keldermeester, Johan Malan. 

 

Die Simonsig Cuvée Royale 2005 is as die algehele wenner en die beste Blanc de Blancs onder die rekordgetal van 77 inskrywings aangewys. Hierdie besonderse vonkelwyn, geïnspireer deur die egte Franse tradisie, is gemaak van die beste chardonnay-druiwe en het vyf jaar op die gissediment deurgebring wat aan hom sy ryk kompleksiteit, finesse en indrukwekkende, fyn mousse verleen.

 

“Die hart van ‘n ware Cap Classique lê in die pers van die heel trosse druiwe wat dan die suiwerste en mees delikate sap, ook bekend as die cuvée, vrystel. Vir ons Cuvée Royale gebruik ons slegs die eerste, beste gehalte druiwesap van die eerste pers. Indien die gehalte van ‘n spesifieke oesjaar nie na wense is nie, produseer ons bloot eenvoudig net nie hierdie vonkel daardie jaar nie,” verduidelik Hannes Meyer, die vonkelwynmaker van Simonsig onder leiding van Johan.

 

Die Simonsig Cuvée Royale 2005 sprankel met ‘n strooikleurige, goue skynsel en ‘n fyn, pêrelagtige mousse wat elegant in die glas dans. Die gisting van die basiswyn het in ‘n tenk plaasgevind terwyl ‘n gedeelte van die chardonnay (38%) vir ses maande in ouer Franse eikehoutvate gegis en verouder is wat aan die Cap Classique sy ryk, komplekse karakter en subtiele, geroosterde smaak gee. 

 

Geroosterde amandel, gebotterde brioche en ryp, geel appelaromas domineer in die neus, terwyl die elegante sitrusaromas van die chardonnay verleidelike finesse en ‘n klassieke, mineraalagtige varsheid in die mond toon. Die Simonsig Cuvée Royale 2005 is ‘n gesofistikeerde vonkelwyn  met uitstekende balans tussen die primêre vrugtegeure en sekondêre geure wat uit die verandering op die gismoer ontwikkel. Probeer dit gerus saam met vis, kreef, vars oesters, kaviaar of artisjokharte. Dit is ook ‘n komkommerkoel keuse saam met somernageregte soos vars vrugteslaai of sorbet.

 

Die spoggerige Simonsig Cuvée Royale 2005  kos ongeveer R185 per bottel en is landwyd beskikbaar by uitsoekwynhandelaars en restaurante of direk vanaf die kelder.

 

Vir meer inligting of bestellings, skakel Simonsig by 021-888-4915 of besoek www.simonsig.co.za.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram