Simonsig Encore sprankel in nuwe baadjie

Date posted:
November 12, 2009

Simonsig se effe droë Méthode Cap Classique, Encore Vin Sec, maak hierdie somer sy buiging in ‘n splinternuwe baadjie en spog met ‘n meer gesofistikeerde voorkoms wat opnuut die aandag by vonkelwyn-liefhebbers sal wek.

 

Gepoets met elegante eenvoud pronk die 2006-oesjaar van hierdie vrugtige Cap Classique nou met ‘n stylvolle en meer treffende omslag wat die erfenis en status van Simonsig se trefferreeks, bottel-gefermenteerde vonkelwyne tuis bring.

 

“Buiten ons immergewilde Kaapse Vonkel wat ‘n lewe en voorkoms van sy eie het, skakel die Encore se nuwe gelaat nou goed in by die res van ons MCC-familie, wat bestaan uit die Kaapse Vonkel Brut Rosé en ons elegante Cuvée Royale. Sy karakter bly natuurlik kenmerkend uniek en spreek vanuit die bottel,” vertel Simonsig se keldermeester, Johan Malan.

 

Die sielsverkwikkende Simonsig Encore 2006 is ‘n versnit van chardonnay (52%) en pinot noir (48%) wat die neus met ‘n simfonie van geroosterde, neutagtige aromas begroet, terwyl geure van ‘n heuningkwas-geverfde brioche en toffie-appel die mond prikkel.

 

Die wyn se strooikleurige, goue skynsel getuig van sy goeie ontwikkeling gedurende die 15 maande wat dit op die afsaksels deurgebring het en sy ietwat hoër chardonnay-inhoud verleen aan dié vonkel ‘n lewenslustige, sitrus-ondertoon wat afgerond word met ‘n delikate, romerige mousse.

 

Encore se elegante soetheid word perfek geïntegreer en bied ekstra lyf en lengte aan dié goed gebalanseerde vonkel. Alhoewel dit reeds heerlik is om sommer dadelik geniet te word, sal hierdie wyn selfs nog meer rykheid en kompleksiteit met verdere bottelveroudering toon.

 

Die Simonsig Encore 2006 is ‘n uitstekende pasmaat vir kos, maar is ook ‘n puik solo-genot en verleen sjarme aan kersligetes, ‘n piekniek tydens sonsondergang of enige selfbevredigende oomblik. Probeer gerus die MCC saam met patees en ligte soppe. Die Encore is perfek om die palet skoon te maak, dus is dit ook ‘n goeie keuse saam met nagereg.

 

Die vonkelwyn is beskikbaar vanaf R80 per bottel direk vanaf die kelder of by uitgesoekte supermarkte en wynhandelaars landwyd.

 

Einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram