Simonsig Cuvée Royale skitter as beste Méthode Cap Classique

Date posted:
March 20, 2009

Simonsig, die skepper van Suid-Afrika se eerste Méthode Cap Classique, het by die gesogte 2009 Santam Classic Wine-toekennings koning gekraai as die wenner van die Vonkelwyn-trofee vir sy vlagskip Cuvée Royale.

 

Die Simonsig Cuvée Royale 2003 – die jongste oesjaar wat pas deur dié gesogte Stellenbosse wynlandgoed bekend gestel is – is aangewys as een van slegs vier trofeewenners en die enigste Cap Classique-wenner by dié jaarlikse toekennings. Hierdie besonderse vonkelwyn, geïnspireer deur die egte Franse tradisie, is gemaak van die beste en mees delikate chardonnay (85%) en pinot noir cuvées en het vyf jaar op die afsaksels deurgebring wat aan hom sy ryk kompleksiteit verleen.

 

Die Simonsig Cuvée Royale 2003 is bekroon vir sy elegansie, balans, finesse en vermoë om met die tyd net nog beter te ontwikkel. Geroosterde amandel, gebotterde brioche en ryp geel appelaromas domineer op die neus. Die elegante sitrusaromas van die chardonnay toon verleidelike finesse en ‘n klassieke, mineraalagtige varsheid in die mond wat dit ‘n besonderse, droë Cap Classique maak met uitstekende balans tussen die primêre vrugte.

 

Nadat die vonkel vir vyf jaar in die Simonsig kelder verouder is, het hierdie adelike Cuvée Royale nou sy optimum verouderingsvermoë bereik en kan dit nou dadelik geniet word op sy eie of saam met delikate fynproewerhappies. Probeer dit gerus saam met vis, kreef, vars oesters, kaviaar of artisjokharte.

 

Hierdie spoggrige Simonsig Cap Classique kos ongeveer R125 per bottel en is beskikbaar by uitsoekwynhandelaars en restaurante, of direk vanaf die kelder.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram