Simonsig blink uit in WINE se Chenin Blanc-kompetisie

Date posted:
January 20, 2010

Simonsig se Chenin Blanc pronk met nog ‘n pluimpie nadat dit aangewys is as die beste ongehoute wyn op die wyntydskrif Wine se 2010- Guala Closures Chenin Blanc-kompetisie. Die bekroonde 2007-oesjaar van die Simonsig Chenin Blanc – ‘n voormalige wenner van die Platter’s “Superquaffer of the Year”-titel – het 3½ sterre behaal.

 

Simonsig se goeie resultate by vanjaar se Chenin Blanc-kompetisie spreek van meer as vier dekades se passievolle toewyding tot hierdie spesifieke druifvariëteit. Buiten die lof vir die beste ongehoute chenin blanc, het die landgoed ook onderskeidelik 4½, 4 en 3 sterre vir sy Simonsig Chenin Avec Chêne 2008, Simonsig Woolworths Limited Release 2008 en Simonsig Chenin Blanc 2009 behaal.

 

“Ons toeganklike Chenin Blanc vestig opnuut die aandag op toeganklike wyne van gehalte,” vertel Johan Malan, Simonsig se keldermeester. “Chenin blanc was die eerste wyn wat my oorlede pa, Frans Malan, op die plaas gemaak het en is vandag, na meer as 40 jaar, steeds Simonsig se gewildste verkoper.”

 

As mens kyk na die wyn se suksesrekord is dit eintlik ironies om te dink dat Johan op ‘n stadium oorweeg het om hulle ongehoute Chenin Blanc die deur te wys siende dit nie vir hom uit ‘n besigheidsoogpunt sin gemaak het om ‘n toeganklike sakpaswyn vanuit duur, kosbare Stellenbosch-wingerde te maak nie.

 

In plaas daarvan om die produksie van hul Chenin Blanc te staak, het Johan in die 1990’s besluit om eerder die smaakprofiel daarvan te verander. Die eens ligter Simonsig Chenin Blanc met sy kortstondige aromas is getransformeer na ‘n voller, ryker en meer veelsydige Chenin Blanc met ‘n droër dog vars, uitgelate smaak en uitstekende verouderingsvermoë.

 

“Dit was die keerpunt wat die wêreld se verskil vir ons beteken het en ons Chenin Blanc het sedertdien uitstekend gevaar,” voeg Johan by.

 

In 2005 het Simonsig ook ‘n meer ernstige weergawe van Suid-Afrika se mees geplante variëteit onthul met die bekendstelling van hulle houtverouderde, welsprekende Chenin Avec Chêne 2004 (Chenin met eikehout), wat meer diepte en kompleksiteit aan die landgoed se reeks voortreflik gebalanseerde chenins verleen.

 

Die genotvolle 2007-oesjaar flankeer met ‘n goue, strooiagtige kleur, met vrugtige aromas van sonryp Golden Delicious-appels en sappige peer prominent in die neus. ‘n Tropiese vrugteslaai van spanspek, koejawel en pynappel prikkel die tong uitgelate, terwyl ‘n tikkie heuning ‘n sysagte rykheid aan die nasmaak gee.

 

Die Simonsig Chenin Blanc 2007 is uiteraard die geskikte lafenis vir ‘n warm somersdag, smaak vorentoe saam met seekos en staan sy man met kerrie en pikante Thai-geregte. Die wyn is beskikbaar direk vanaf die kelder teen R32 per bottel.

 

Vir meer inligting of om jou kis Simonsig Chenin Blanc 2007 te bestel, skakel die landgoed by (021) 888-4915 of besoek www.simonsig.co.za.

 

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram