Shannon Vineyards, geleë hoog teen die westelike rand van die Elginvalleiplato, het die jongste oesjare van sy drie wingerdspesifieke wyne bekend gestel, almal met name wat verwys na die geografiese kenmerke van die bergreeks bokant die wingerde:
• Shannon Vineyards Sanctuary Peak Sauvignon Blanc 2010
• Shannon Vineyards Mount Bullet 2009
• Shannon Vineyards Rockview Ridge Pinot Noir 2009
Shannon Vineyards se wyne het vir die eerste keer in die kollig beland op Cape Wine 2008 (Suid-Afrika se tweejaarlikse vertoonkas van wyn vir internasionale wynhandelaars en –media) toe hul eerste Sauvignon Blanc (2008) een van die fondse was. Sedertdien het hul wyne byna kultusstatus behaal.
Die Mount Bullet was onlangs in die kollig toe die 2008-weergawe 5 sterre los geslaan het in die 2011- Platter’s South African Wine Guide, ‘n buitengewone prestasie vir ‘n kultivar wat allesbehalwe gewild is in Suid-Afrika. En in 2010 het Shannon Vineyards se eienaars, Stuart en James Downes, ‘n onverwagte bonus gekry toe hul pinot noir-druiwe vir ‘n ander wynmakery in Elgin 5 sterre by Platter’s gewen het.
Die Shannon Vineyards-wyne
Shannon Vineyards Sanctuary Peak Sauvignon Blanc 2010
Die naam “Sanctuary Peak” word vir die eerste keer vir die 2010-oesjaar van die Shannon Vineyards Sauvignon Blanc gebruik. Die naam kom van die piek in die Kogelbergreeks wat oor die sauvignon blanc-wingerde wag hou.
Die wingerde van 4,3 hektaar bestaan uit sewe verskillende blokke, almal beplant met verskillende klone, wat elkeen iets verskillends na die finale versnit bring. Al drie oesjare van die Shannon Vineyards Sauvignon Blanc bevat ‘n komponent van 12-15% semillon wat in houtvate gegis het. Hierdie druiwe kom van ‘n blok van ‘n halwe hektaar op die plaas. Die semillon-druiwe word gewoonlik bietjie ryper gepluk vir ‘n voller mondgevoel. Dit versag die natuurlike suur van die sauvignon blanc-druiwe en gee die wyn ‘n voller middelmondgevoel.
Die 12% semillon in die 2010-oesjaar het natuurlik gegis en is vir 3 maande in nuwe Franse eikehouvate verouder. Die moer is elke twee weke geroer. In sy eerste jaar is die wyn tipies sauvignon blanc, maar met bottelveroudering sal dit ontwikkel en behoort vir nog minstens vyf jaar baie drinkbaar te wees.
Die Shannon Vineyards Sanctuary Peak Sauvignon Blanc 2010 het geure van sitrusvrugte, appelliefie en tropiese vrugte, terwyl aspersie- en ligte rissie- en speserygeure en ‘n mineraalagtigheid die wyn afrond. Shannon Vineyards se Sanctuary Peak Sauvignon Blanc 2010 word in ‘n bottel met ‘n ligter gewig verpak (om die koolstofafdruk te verminder) en met ‘n skroefdop toegerus. Die wyn kos sowat R108.
Shannon Vineyards Mount Bullet 2009
Die Shannon Vineyards Mount Bullet 2009 (100% merlot) word vernoem na die koepel op die bergreeks reg bokant die wingerde. Die Downes-broers hoop hierdie nuwe oesjaarbekendstelling kan net so goed vaar soos sy voorganger, die 2008-oesjaar, wat onlangs 5 sterre in die Platter’s South African Wine Guide los geslaan het, die enigste merlot in die 2011-wyngids en een van bittermin wat reeds hierdie soort erkenning ontvang het. Die 2008-oesjaar het ook 91 punte gekry in die Amerikaanse tydskrif Wine Enthusiast se Desember 2010-uitgawe en 92 punte in die VSA se Wine & Spirits Magazine se Februarie 2011-uitgawe.
Die blok van 3 hektaar bestaan uit vyf wingerde, elkeen met ‘n verskillende kloon beplant, en elkeen word afsonderlik verwerk. Minimale inmenging met die wynmaakproses word toegelaat met natuurlike gisting en die minimum deurdruk van die doppe. Appelmelksuurgisting in Franse eikehoutvaatjies word gevolg deur veroudering van sowat 20 maande in vaatjies van 225 liter. Drie verskillende kuipers uit Bordeaux word gebruik. (Nuwe hout – 40%, tweedevul – 30%, derdevul – 20%, vierdevul – 10%)
Shannon Vineyards se Mount Bullet is ‘n baie aantreklike merlot wat beslis baie ernstige wynliefhebbers gaan beïndruk. Wanneer die wyn die eerste keer geproe word, is mense dikwels verbaas dat dit ‘n suiwer merlot is aangesien dit so baie bied.
Die wyn het ‘n diep, rooi kleur wat ligte veroudering toon (bruin op die rand) en heerlike, ryp rooibessiegeure in die neus ten toon stel, met so ‘n titsel speserye. In die mond kom ‘n aardse kompleksiteit voor met mineraliteit, maar daar is steeds duidelike geure van ryp vrugte, ‘n varsheid en ‘n aanloklike tannienstruktuur. Die wyn is rond en vol, fluweelagtig en elegant, en het ‘n talmende nasmaak. Die Mount Bullet is al vergelyk met ‘n Pomerol in ‘n ryp jaar. Dit kan nou of tot in 2016 geniet word en kos sowat R285.
Shannon Vineyards Rockview Ridge Pinot Noir 2009
Nes met die Sanctuary Peak Sauvignon Blanc en die Mount Bullet, kry die Rockview Ridge Pinot Noir sy naam van die bergpiek bokant die wingerd. Die doel in die pinot noir-wingerde is om druiwe te verbou wat ‘n wye spektrum geure bied en om daardie allerbelangrike “tekstuur” uit te druk wat mens in die beste pinot noirs kry. Daar is twaalf verskillende wingerdblokke, elkeen met sy eie grondtipe en wat met ‘n spesifieke kloon uit Dijon, Boergondië, beplant is. Meer as vyf jaar is afgestaan aan die studie van die resultate van die verskillende Dijon-klone en so is ‘n eie profiel oor die oesjare vir elke blok ontwikkel. Dit is hierdie belangrike inligting wat Shannon Vineyards help om te kies watter blokke om te gebruik vir die finale pinot noir-versnit. Vir die 2009-oesjaar is slegs 5 van die 12 blokke gebruik vir die finale produk.
Stadige gisting met gekweekte gis en gisting met natuurlike gis word noukeurig toegepas met die verskillende komponente. Nadat die druiwe fyn gedruk is, word die sap oorgetap en gelos vir appelmelksuurgisting om te voltooi en dan word die wyn vir 16 maande verouder in eikehoutvaatjies van 228 liter. Vate van drie verskillende kuipers uit Boergondië word gebruik (nuwe hout – 30%, tweedevul – 40%, derdevul – 20%, vierdevul – 10%). Die verouderingstydperk van 16 maande is langer as normaal vir hul pinot noir en is gedoen om die hout se integrasie te verbeter.
Die 2009- Pinot Noir stel geure van truffels en boskasie vry, asook sampioene en ryp kersies, pruime en rokerige eikehout. Dit het ‘n ferm, lewendige tannienstuktuur met mineraalondertone, is elegant met ‘n speseryagtigheid, en het ryp kersiegeure wat die mond vul en ‘n verfrissende mineraliteit. Die wyn kos sowat R250.
Shannon Vineyards Macushla 2009
Shannon Vineyards maak ‘n vierde wyn, ‘n klein hoeveelheid Pinot Noir Late Harvest met die naam Macushla, Iers vir “My Liefling”. Die Macushla het 4½ sterre in die jongste Platters-wyngids ontvang. Dit kos sowat R150.
Shannon Vineyards is slegs oop vir wynproe op afspraak. Skakel 021-859-2491 of stuur ‘n epos aan james@shannonwines.com of besoek www.shannonwines.com.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast