Sauvignon gris: Die wonderlike reis van ontdekking ken g’n einde

Al ooit van sauvignon gris gehoor? Toemaar, moenie alleen voel nie. Hierdie nuwe kultivar is maar eers in 2020 by SAWIS geregistreer en daar’s tans slegs 0,12 hektaar van hom aangeplant deur twee plaaslike wynmakers.

Vir diegene wat nie weet nie, sauvignon gris is ’n mutasie van sauvignon blanc wat hoofsaaklik in Frankryk en Chile gevind word en vertoon grys of pienk korrels. Dis glo meer gehard teen en verdraagsaam van hoë temperature.

Die twee visionêre wynmakerye wat die dapper stap geneem het, is Cederberg Wines en Cape Point Vineyards, en hulle het pas hul eerste oes van sauvignon gris ingesamel.

David Nieuwoudt van Cederberg Wines het 13 jaar gelede vir die eerste keer kennis gemaak met hierdie kultivar toe hy Chile besoek het. Die “kennismaking” het hom só beïndruk dat hy net nie daarvan kon vergeet nie en uiteindelik het sauvignon gris sy opwagting op Cederberg gemaak. Hy het in 2019 die eerste stokke op Sandpoort in die Sederberg geplant, reg langs Cederberg se beste blokke sauvignon blanc, in sandsteen- en koffieklipgrond.

“Die druiwe se pienk kleur laat dit lyk of hulle gesonbrand het, veral as mens gewoond is aan sauvignon blanc, maar hulle moet nie te groen gepluk word nie,” sê David. “Mens pluk hulle nader aan optimale rypheid wanneer hulle ’n byna muskaatagtige geur verkry het. Die korrels se vel is taaier en dicker, so ek dink hulle kan vinnig fenolies raak. Ek verkies om die heel trosse te pars vir ’n skoner sap.

“Dis baie soos sauvignon blanc. Ons maak dit net in ’n meer oksidatiewe styl eerder as reduktief om ’n wyn met ’n natuurlike tekstuur en ’n pragtige mondgevoel te skep.”

David verduidelik dat terwyl dit by sauvignon blanc alles oor geurprofiel gaan, veral in Suid-Afrika, is dit sauvignon gris se tekstuur en mondgevoel wat dit spesiaal maak. Die wyne is heerlik drinkbaar, sagter en veel ‘vetter’ as sauvignon blanc. Eerder as die geurprofiel, gaan dit by sauvignon gris oor mondgevoel en tekstuur wat dit dan ook ’n baie kosvriendelike wyn maak.

Cederberg se wynmaker, Jean Nel, het verlede jaar ’n klein vaatjie van die eerste oes gemaak, maar vanjaar sal die eerste, gesertifiseerde sauvignon gris in Suid-Afrika gebottel word.

“Dit sal maar altyd ’n nisproduk wees, maar ons beplan om uiteindelik so 3 hektaar aan te plant,” sê David.

Cape Point Vineyards het heel onafhanklik van Cederberg ook ’n liefde vir sauvignon gris ontwikkel.

“Ek het vir die eerste keer met hierdie kultivar in aanraking gekom toe ek ’n paar jaar gelede in Sancerre gewerk het,” vertel Riandri Visser, die wynmaker. “Ek was heeltemal gefassineer deur die pragtige pienk korrels. Hoewel sauvignon gris nie amptelik daar toegelaat word nie, bestaan daar tog sommige mutasies tussen die sauvignon blanc.”

Omdat geen sauvignon gris in Suid-Afrika beskikbaar was nie, het Cape Point Vineyards die nodige wiele aan die rol gesit en gewag. “Dit het ’n paar jaar geneem om die regte materiaal in die hande te kry,” vertel Riandri. “In 2018 is ons in kennis gestel dat die stokkies gereed is en die ‘moederblok’ is toe laat in die seisoen van dieselfde jaar aangeplant. Dis die GX917-kloon wat op R110 geënt is.”

Die stokke het ’n tuiste gevind reg langs ’n blok sauvignon blanc, in verweerde graniet-en- sandsteengrond met bietjie klei. Die eerste amptelike oes het op 17 Februarie plaasgevind en die sap is in ’n baie ou vat van 600ℓ geplaas vir gisting en daarna toegelaat om op die gismoer te verouder.

“Die geure is ongelooflik en baie anders as sauvignon blanc. Dit sal ’n droë wyn wees, maar ons sal slegs ’n beperkte getal bottels hê vir bekendstelling in 2023.”

Volgens SAWIS is die geregistreerde area onder sauvignon gris in Suid-Afrika tans 0,67 hektaar, of 2 696 stokke, en geleë in die statistieke streke van Stellenbosch en Olifantsrivier.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>