Salmforel en Roodeberg Rosé: kort nog net goeie geselskap!

“Ek is gek daaroor om forel in jenewer te berei omdat dit so ’n interessante proses is,” verduidelik die sjef, Mynhardt Joubert. “Hier kan jy jou eie stempel afdruk afhangende van die speserye en mengsels wat jy gebruik.

“Hierdie is my ideale kombinasie. Jy kan dit voorberei as ‘n bykos of selfs as hoofgereg voorgesit met ’n vars, bros baguette. Die forel moet ten minste ‘n dag voor die tyd berei word, en dit verbeter as dit ‘n tydjie staan. Dit is ongelooflik lekker en perfek om met vriende oor ‘n glas of twee Roodeberg Rosé te deel.”

Bedien 6 tot 8

Voorbereiding: 30 minute

Rus: 24 uur

Bestanddele

  1. 600 tot 800 g vars salmforel-filette (3 tot 4 filette)
  2. 1 teelepel vinkelsaad
  3. 1 teelepel dillesaad
  4. 1 teelepel anyssaad
  5. 1 teelepel gedroogde koljandersaad
  6. 1 teelepel geel mostertsaad
  7. 1 klein rissie, ontpit en gekap
  8. 100 g suiker
  9. 100 g growwe sout
  10. 200 ml KWV Cruxland Jenewer
  11. 1 koppie gekapte vars vinkelknol en –blare
  12. 1 koppie gekapte rooiuie

Metode

  1. Vee die salmforel-filette met handdoekpapier gedoop in suurlemoensap en plaas op ‘n plat oondplaat die grootte van die vis.
  2. Meng al die droeë speserye en braai droog in die pan vir ongeveer 3 tot 4 minute tot jy die eerste klap geluide hoor en ‘n effense rokie sien trek. Verwyder dan van die hitte en laat afkoel.
  3. Meng die drooggebraaide speserye, sout en suiker en vryf dit in die visfilette. Wees versigtig om nie die vleis van die vis te kneus nie.
  4. Lê die eerste visfilet neer en bedek met van die gekapte vinkel, uie en die gedroogde speserymengsel. Hou aan om die filette op mekaar te stapel en met die speserymengsel te bedek.
  5. Giet die jenewer oor die filette en bedek die vis met kleefplastiek. Plaas nog ‘n oondplaat of pan bo op die vis en druk dit af met ‘n swaar voorwerp (ek vind dat my Foodie Tydskrifte die beste werk!). Plaas in die yskas en laat vir ten minste 24 uur staan.
  6. Verwyder die kleefplastiek en vee al die orige speserye van die visfilette af. Sny baie fyn en berei voor vir die slaai.

Bestanddele vir die slaai

  1. Vars aarbeie, swartbessies en kersies – indien in seisoen
  2. Komkommer geskil met ‘n spaghetti-skiller, gesnyde versoete ingelegde beet, gekookte bababeet, mayonnaise, baba slaaiblare en eetbare blomme.

Rangskik al die bestanddele op individuele borde of op een groot bord. Voeg sout en peper by na smaak.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>