Sakkie Kotzé werp lig op Le Bonheur se eerste nuwe aanbiedings in dekades

Date posted:
November 2, 2012

“Hierdie is die eerste reserwewyn wat ek in my lewe gemaak het. Ek moes 38 jaar lank wag vir die regte geleentheid,” verduidelik Sakkie Kotzé (61) oor sy 2009 Le Bonheur Tricorne, ’n majestieuse, gulhartige en verrassend toeganklike versnit van cabernet sauvignon, cabernet franc en shiraz. “Ek het baie lank daaraan gedink, maar ek moes geduldig wees en vir die regte oesjaar wag. Vir ons was 2009 ’n uitstekende jaar en teen daardie tyd was die shiraz-stokke wat ons aangeplant het, reeds sewe jaar oud en het hulle druiwe gelewer met voldoende karakter.”

 

Tricorne is hierdie Stellenbosse landgoed se eerste nuwe rooi versnit in 24 jaar en net meer as 6 500 bottels is gemaak. Prima, Le Bonheur se enigste ander rooi versnit, is in 1988 bekend gestel en het danksy sy bekoorlike elegansie, ’n lojale gevolg plaaslik sowel as in Europa en Kanada opgebou.

 

“Dit beteken nie dat ons Tricorne elke jaar gaan maak nie,” voeg hy vinnig by. “Ons volgende oesjaar is die een van 2012. Ons sal hierdie versnit van drie kultivars slegs in uitsonderlike jare maak.”

 

Die wyn (links) kry sy naam van die driekantige hoed wat die Spaanse soldate in die 17de eeu gedra het en later deur die hofhouding van Louis XIV aangeneem is wat dit mode regdeur Europa gemaak het, as siviele sowel as militêre bykomstigheid.

 

“Ons het gehou van die idee om die naam van ’n tipe hoofbedekking te gebruik aangesien ons geleë is naby Klapmuts, wat ’n soort hoed in Nederlands is!”

 

Tricorne is ’n versnit van 40% cabernet sauvignon en gelyke hoeveelhede cabernet franc en shiraz. Die druiwe kom uit drie van die landgoed se beste wingerde en is van uitgesoekte stokke gepluk. Die wingerde van albei cabernets, wat ses tot agt jaar oud was toe die druiwe geoes is, groei in ontbinde graniet terwyl die shiraz, sewe jaar oud in 2009, in leemgrond groei. Die druiwe van die verskillende wingerde is afsonderlik tot wyn gemaak.

 

In teenstelling met die ander twee kultivars het die shiraz geen dopkontak gehad nie. “Ek wou ’n baie klassieke profiel skep, met geure van wit peper. Dit is baie ingehoue en ek het daardie karakter in die houtveroudering probeer behou deur tweedevul- Amerikaanse eikevate te gebruik eerder as nuwes ten einde ? te uitgesproke vanieljesoetheid te vermy.”

 

Die wyn het 26 maande in ’n kombinasie van 80% nuwe Franse fyngrein-vate van 300 liter en 20% van die tweedevul- Amerikaanse vate deurgebring. “Dis ’n lang tyd maar jy tel dit nie in die mond op nie. Dis baie glad op die tong, met ’n ryk en talmende bessiespeseryagtigheid.”

 

Met tipiese beskeidenheid sê Sakkie: “Ja, ek hou van die wyn. Dit verdien iets baie spesiaal,” terwyl hy sy r’e met sy tipiese brei uitspreek, “ soos ’n heerlike, feestelike bees- of lamsvleisgereg.”

 

Die nuwe vlagskipwyn is nie Sakkie se enigste toevoeging tot die Le Bonheur-reeks nie. Hy het ook die landgoed se eerste wingerdspesifieke wyn, ’n sauvignon blanc (regs), bekend gestel. Dit is gemaak van druiwe afkomstig van ? wingerd wat 35 jaar oud is en 220 meter bo seevlak in kleiryke grond geleë is.

 

“Die oorspronklike materiaal is in die laat sewentigerjare hier op die plaas aangeplant deur die groot wingerdboukundige, wyle Desiderius Pongracz. Ons het die druiwe as deel van ons gewone sauvignon blanc gebruik, maar daar is besluit dat met so ’n lang en spesiale geskiedenis, die wingerd self ook vereer moes word.”

 

Hy sê die wyn is baie anders as die gewone sauvignon blanc in die reeks. “Dis nie so vruggedrewe nie en in baie opsigte selfs meer genuanseer. Dit het baie lyf, is lewendig en vuursteenagtig, maar bied nogtans groen en tropiese geure. Dis ’n uitstekende koswyn, baie kenmerkend en getuig van die lang verbintenis wat Le Bonheur met sauvignon blanc het.”

 

Die Le Bonheur Tricorne kos sowat R200 ’n bottel en die wingerd-spesifieke Sauvignon Blanc sowat R75. 

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram