Sakkie Kotzé en sy rooi versnit is albei ‘prima’!

Date posted:
July 6, 2010

 

Sakkie Kotzé, die vurig onafhanklike wynmaker van Le Bonheur sedert 1993, weier om deur mode, ontleding of formule voorgeskryf te word. “Ek verkies elegante wyne en probeer alkohol op redelike vlakke hou. Ek pluk die druiwe wanneer hulle gewig in my hand en smaak in my mond reg voel en volg geen resep nie.”

 

Prima, sy spesialiteitsrooiwyn, ‘n versnit van merlot en sauvignon blanc, getuig van sy strewe na grasieuse en verfynde geure en verfyndheid van struktuur.

 

Die wyn, wat tipiese merlot-eienskappe soos kassia en speserye toon, verryk deur die swart vrugtegeure van die cabernet sauvignon, is sag en fluweelagtig in die mond of, soos Kotzé dit eenvoudig stel: “Dis baie drinkbaar.”

 

En Sakkie lieg nie. ‘n Vertikale proe van 10 oesjare van sy Prima het ‘n handvol wynskrywers gou-gou oortuig dat hierdie joviale wynmaker weet wat hy doen. Ons het begin met sy 1995-model en stadig maar seker deurgewerk na die jongste wergawe, die Prima 2007. En toe sit Sakkie self die kersie op die koek toe hy met ‘n Prima van 1989 vorendag kom. Ons het verskil oor watter een van die oesjaarwyne vir ons die lekkerste was, maar ons was na die tyd almal eens dat Sakkie en sy rooi versnit beslis “prima” is!

 

Hy verwerk elke wingerdblok afsonderlik en hou die sap na gisting vir enigiets van ‘n paar dae tot ‘n maand op die doppe vir meer karakter en om die tekstuur te versag. Hierdie benadering, gekoppel aan appelmelksuurgisting, beteken hy hoef nie sy wyne te brei om vrank of bitter eienskappe uit te skakel nie.

 

Hy gebruik rotasietenks vir die maak van sy rooiwyn want hy glo dit is minder ingrypend as om die dopbedekking wat in statiese tenks vorm, deur te druk, en hy is van mening dat hy beter onttrekking van kleur, geur en tanniene op hierdie wyse kry. Hy is versigtig om die tenks nie te gereeld te roteer nie om ? ooronttrekking van tanniene te verhinder.

 

Geen twee Prima-oesjare is dieselfde nie hoewel hy rofweg mik na ‘n verhouding van 3:1 wanneer hy die versnit maak. “Vir die 2007-oesjaar het ons 68% merlot en 32% cabernet gebruik. In 2001 was daar tot soveel as 88% merlot in die versnit. Alles hang af van die karakter van die oesjaar. Ek streef altyd na ‘n mondgevoel van rooi en swart bessievrugte en genuanseerde houtspeserye. Prima moet subtiel kompleks wees, maar ook baie drinkbaar, met sagte tanniene.”

 

Die 2007- Prima is vir 18 maande in ‘n kombinasie van Franse eikehout, meestal nuut, en 10% Amerikaanse eikevate verouder om ? “soet volrondheid te gee, maar sonder om die wyn se klassieke karakter in te boet”.

 

 

 

Byskrif: Le Bonheur se Prima 2007, 'n heerlike versnit van merlot en cabernet sauvignon.

 

 

 

Na die finale versnyding en bottelering, is die wyn ? tyd lank in die bottel gelos voor dit in die mark gekom het. “Omdat die meeste wyne gedrink word kort na hulle gekoop is, hou ons ons wyne terug totdat hulle reg is om geniet te word.”

 

Hy is beskeie oor sy wynmaakvaardighede en sê die meeste van sy energie word gerig op die produksie van die regte druiwe, iets wat hy met die ondersteuning van die befaamde wingerdboukundige, Eben Archer, doen. Slegs 75 van die 163 hektaar op die plaas is onder wingerd en vorm 32 wingerdblokke.

 

“Ons lê sterk klem op wingerdbou – die voorbereiding van die grond, die oplei van die stokke en loofbeheer – om ? goeie balans te handhaaf tussen stokke, wortels en vrugte terwyl ons die unieke karakter van die Klapmutskop behou.”

 

Hy verduidelik dat die plaas, wat teen die hange van die Klapmutskop en die noordelike dele van die Simonsberg lê, is buitengewoon uiteenlopend in terme van temperatuur, grond, helling en ander eienskappe, en dit alles dra daartoe by dat sy wyne so veelvlakkig is.

 

“Om ? voorbeeld te noem, in Februarie, gewoonlik die warmste maand van die jaar, is die gemiddelde dagtemperatuur 23,7 grade op die gedeelte van die plaas wat noord kyk, terwyl dit so laag as 20,5 grade is op die gedeelte wat suid/suidoos kyk. Ons het agt grondsoorte op die plaas. Hoogtes bo seevlak wissel van 200 tot 450 meter. Die eienskappe wissel van die suidweste reg rondom die plaas tot in die noorde, die ooste en die weste. Dit alles gee jou baie materiaal om mee te werk.”

 

Elke oes, voor hy vir rypheid proe, toets hy die rypheid van die druiwe deur die korrels in sy hande te hou. Hy kan van die toestand van die bessie en die dop reeds sê wanneer die tyd reg is, maar om absoluut seker te maak, sal hy die korrels proe vir balans tussen vrugtesuiker en -sure. Die chemiese ontleding van die vrugte bevestig gewoonlik wat hy reeds weet.

 

“Wanneer die druiwe reg is, sal werkers met klein kissies dit tros vir tros met die hand pluk. Hoewel dit meer werk is, weet hulle hoe kleiner die plukkis, hoe minder die kans dat die druiwe beskadig gaan word onder hul eie gewig. Ons pluk ook gedurende die koelste deel van die dag wanneer die druiwe se geure op hul beste is.

 

“Ons het ? reël dat die druiwe die kelder moet bereik binne ‘n uur nadat dit gepluk is voordat gehalte of geur benadeel word. Sodra die druiwe in die kelder is, word dit met die hand uitgesoek om te verseker dat slegs die gesondste trosse gebruik word om wyn van te maak.”

 

Prima is Le Bonheur se enigste versnit. Kotzé maak ook ? gevierde cabernet sauvignon, ? sauvignon blanc en ? chardonnay wat onlangs ‘n goue medalje vir die 2009-oesjaar op die Sélections Mondiales des Vins in Kanada verower het.

 

Sy wyne geniet ? groot aanhang in Europa, asook in Quebec, Kanada.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram