Sakeman verower glansryke Van Ryn’s-toekenning

Date posted:
May 7, 2012

’n Entrepreneur van Gauteng is die wenner van die Van Ryn’s-toekenning vir Brandewyn-uitnemendheid van 2012. Derek Ramsden, wat op 4 Mei by ’n funksie op Morgenster die toekenning van Kaapse Wynmeester ontvang het, het die hoogste telling in die brandewyn-afdeling van die eksamen behaal.

 

Die KWM-program word deur die Kaapse Wynakademie aangebied. Van Ryn’s, wat die KWM-brandewyntoekenning borg, het die titel van Beste Brandewyn ter Wêreld by die International Wine and Spirit Competition (IWSC) reeds vier keer ingepalm, en die trofee vir die Beste Brandewyn by die International Spirits Challenge (ISC) al drie keer huis toe gebring. Van Ryn’s se Collection Reserve-reeks word by die Van Ryn’s-distilleerdery langs die Eersterivier in die Vlottenburg-vallei by Stellenbosch gemaak.

 

Ramsden was met sy pa, Dennis, as vennoot aan die stuur van ’n skrynwerkersbesigheid, maar het drie jaar gelede, toe dié familiebesigheid ná 18 jaar verkoop is, ’n nuwe loopbaan begin. Sy nuwe onderneming – One Wine Cellar Consultant – is in Gauteng gesetel en spits hom op ’n eksklusiewe nismark toe, synde die ontwerp, vervaardiging en voorraadbestuur van private en restaurant-wynkelders. Dit sluit ’n raadgewende en verkrygingsdiens in.

 

“Ná die voltooiing van die Kaapse Wynmeesters-program is ek selfs meer vasbeslote om my in die plaaslike én buitelandse wynbedryf te vestig,” sê Ramsden. Sy sesjarige seun, Tyler, is, naas sy vasbeslotenheid om sy onderneming te laat slaag, die belangrikste fokuspunt in sy lewe.

 

Die KWM se brandewynmodule is in 2006 by die kursus gevoeg en bestaan uit ’n geskrewe en proe-eksamen wat brandewyne van oral ter wêreld behels. Marilyn Cooper, die uitvoerende hoof van die Kaapse Wynakademie, sê iemand wat die Toekenning vir Brandewynuitnemendheid wil wen, moet brandewyn besonder goed ken.

 

“Dit geld sowel sy proevermoë as sy teoretiese kennis. Dit kos toegewyde studie en passie, maar boonop ’n ware belangstelling. Derek is die perfekte voorbeeld van só ’n kandidaat. Niemand was verbaas toe hy die hoogste punte in die brandewyn-afdeling van die kwalifikasie behaal het nie.

 

“Kaapse Wynmeesters móét ervare brandewynproeërs word om hul rol as ambassadeurs vir die hele wynbedryf te vervul. Dis ’n bedryf wat druiwespiritualieë insluit en aanvaar. Suid-Afrika se brandewyne is van uitmuntende gehalte, en die titel van Beste Brandewyn ter Wêreld is die afgelope 13 jaar reeds tien keer aan ’n plaaslike brandewyn toegeken. Die brandewynafdeling van die eksamen stel KWM-kandidate in staat om hulself met sulke uitnemendheid deeglik vertroud te maak.”

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram