Saartjie hou aan om opwindende wynreeks te inspireer!

“Soms het jy nie woorde nodig om beter te voel nie, net die nabyheid en liefde van ‘n hond.” En Saartjie die Jack Russell is naby genoeg om jou daai “liefde” te bied, al is dit in ’n bottel!

Saartjie is die “skaduwee” van Hillcrest se wynmaker, Arno Smith, en haar naam pronk met trots op ’n baie gewilde enkelwingerd-wynreeks uit die Durbanville-wynvallei.

Saartjie is ’n ou familienaam van die Smiths. ’n Groot-tante van Arno met dieselfde naam was ’n vurige ou dame wat dinge altyd versigtig en op ’n afstand dop gehou en dan wanneer nodig ingemeng of standpunt ingeneem het, nes Saartjie die Jack Russell!

Arno se liefde vir sy “vierpootdogter” het tot die ontstaan van die Saartjie-wynreeks gelei wat  bestaan uit ’n Semillon, ’n Cabernet Franc, ’n Petit Verdot en ’n Malbec.

Arno en sy Saartjie voor Hillcrest se restaurant.

Die Saartjie Single Vineyard Selection 2018 is gemaak van ’n klein blok druiwe op die plaas. Hierdie wyn het die vier oorspronklike oesjaarwyne in die reeks van stapel gestuur. Die sap word “wild gegis” om aan die wyn sy kenmerkende geurprofiel te gee.  Die eindresultaat is ’n wyn ryk aan sitrus-, lenteblom- en perskegeure, met sweempies groen gras en ’n heerlike eikehout-einde. Dit kan nou reeds geniet word, maar sal binne die volgende vyf jaar op sy beste wees.

Arno beskryf die Saartjie Cabernet Franc 2017, wat vroeër vanjaar ’n indrukwekkende 92 punte by die bekende Britse wynkenner, Tim Atkin MW, ontvang het, as ’n wyn met ’n pragtige diep rooi kleur met aromas van fyngemaalde kryt, donkerbessies en kersies. In die mond speel geure van groen peperkorrels, fynbos en pruimedante op die tong, gebalanseer deur eikehout. Sagte en goed geïntegreerde tanniene en ’n talmende nasmaak maak dat men shierdie wyn nou reeds kan geniet, maar hy sal sy volle potensiaal oor die volgende aar jaar bereik.

Die Malbec 2017, almal se gunsteling en ’n wyn wat 90 punte by Tim Atkin en ’n goue medalje op vanjaar se Veritas-kompetisie ontvang het, beïndruk met sy donker, diep pers kleur. ’n Komplekse neus van moerbei, pruim en rooi bessievrug, met sweempies vanielje en naeltjie, gee aanleiding tot ’n goed gebalanseerde wyn met soepel tanniene. Hoewel die wyn nou reeds geniet kan word, sal dit voortgaan om te verbeter oor die volgende vyf tot sewe jaar.

Die Saartjie-wynreeks word afgesluit met die Petot Verdot 2017 met sy diep, donker kleur en aromas van donker bessies, viooltjies en droplekkers in die neus. Hierdie volronde wyn het ’n digte mondgevoel met sweempies donker sjokolade, ’n indrukwekkende tannienstruktuur en ’n talmende nasmaak. Geniet hom nou of binne die volgende paar jaar. Hierdie wyn het ook uitstekend gevaar in Tim Atkjin se beoordeling en 91 punte ontvang in sy jaarlikse oorsig oor Suid-Afrikaanse wyne, asook ’n goue medalje op vanjaar se Veritas-kompetisie.

Hillcrest se Saartjie-wynreeks is op die landgoed in die Durbanville-wynvallei en aanlyn via Hillcrest se aanlynwinkel beskikbaar teen R145 elk, asook landwyd by uitgesoekte drankwinkels. Vir meer inligting, besoek www.hillcrestfarm.co.za.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>