SA wyngemeenskap skeep Afrikaans steeds af!

 

Ek kla al twee jaar lank oor Engelse persvrystellings en persvrystellings in swak Afrikaans aan die Afrikaanse media. Ek herhaal, dis nie net ‘n belediging vir Afrikaans en Afrikaanse skrywers nie, dis ook uiters onprofessioneel en stel sowel die wynprodusent as sy kommunikasiemaatskappy/konsultant in ‘n baie swak lig. Laasgenoemde is per slot van sake veronderstel om hul kliënte die regte advies te gee. En moet asseblief nie begrotings as verskoning gebruik nie!

 

Daar is wel enkele kommunikasiemaatskappye wat professioneel genoeg is en die moeite doen om persvrystellings in ewe goeie Afrikaans en Engels uit te stuur aan die onderskeie media. Op hulle klink ek vandag ‘n glasie Kaapse Vonkel. Met die res het ek nou tou opgegooi!

 

Hier volg ‘n brief wat ons onlangs aan Die Burger in Kaapstad se briewekolom gestuur het. Die reaksie was uiters bemoedigend. Die oorweldigende meerderheid briefskrywers wat hierop gereageer het, was baie ondersteunend. Sommige het selfs laat blyk dat hulle reeds nie meer sommige wynprodusente se produkte gebruik nie as gevolg van die afskeping en verwaarlosing van Afrikaans deur hierdie produsente. Hulle was ook geensins skaam om name te noem nie!

 

Natuurlik was daar ook ‘n paar briefskrywers wie se snedige aanmerkings nie enige kommentaar verdien of regverdig nie. Daar’s mos maar altyd ‘n vrot vrug of twee in enige sakkie!

 

Hier’s die volledige brief: “Sedert ek byna twee jaar gelede met die wynwebblad Planeet Wyn begin het, baklei ek vir Afrikaans, en dikwels voel dit vir my of ek ‘n eensame stem in die woestyn is aangesien ek geen sigbare ondersteuning van een enkele persoon of organisasie kry nie. Vir ‘n bedryf wat hoofsaaklik Afrikaans is, van wynplaaseienaars tot wynmakers tot wynliefhebbers, is dit vir my skokkend om te sien hoe Afrikaans afgeskeep word.

 

“Ondanks al my pleidooie en versoeke ontvang ek steeds persvrystellings net in Engels vanaf sommige wynprodusente via hul skakelmaatskappye. Dis ‘n belediging vir my taal, uiters onprofessioneel en stel sowel die skakelmaatskappye as hul kliënte in ‘n baie swak lig. En as mens kyk watter bekende Afrikaanse name hierdie verwaarlosing van hul eie taal goedkeur, wil jy vlug. Skande op skande!

 

“Gelukkig is daar darem so ‘n paar skakelmaatskappye wat werklik hul sout werd is en Afrikaanse persvrystelings (in goeie Afrikaans) aan die Afrikaanse media stuur. Daar is ‘n paar ander wat ten minste probeer hoewel my taal dikwels so deur hulle verwring en verdraai word dat ek rooi sien. Maar hulle probeer ten minste, en soms moet mens skynbaar aanvaar dat goed genoeg seker maar goed genoeg is. Nie dat dit ooit goed gepraat kan word nie.

 

“Maar dis nie net die wynbedryf wat Afrikaans skaamteloos afskeep en verwaarloos nie. Gaan luister bietjie hoe ons pragtige, beskrywende taal in byvoorbeeld KFM se Afrikaanse nuusbulletins verkrag word, of kyk hoe dit in Afrikaanse advertensies op televisie en in die gedrukte media geslag word. Dis ‘n skreiende skande, maar ongelukkig ook ‘n teken van die tye waar respek vir kultuur by die dag kwyn.

 

“‘n Volk wat sy taal en kultuur verwaarloos, sal die prys daarvoor betaal. Dis tyd dat Afrikaanssprekendes hul stem dik maak en hierdie skaamtelose verkragters van ons taal wys waar Dawid die wortels begrawe het. Dit lyk of organisasies soos die ATKV niks doen nie!

 

“Ek oorweeg dit ernstig om hierdie wynprodusente sowel as hul skakelmaatskappye voortaan op Planeet Wyn te noem en verdoem (“name and shame”) en hul produkte en dienste te boikot. En ek hoop ander Afrikaners ontwikkel genoeg van ‘n ruggraat om ook te sê: Genoeg is genoeg!”

 

Bacchus @ Planeet Wyn

 

Wat my wel opgeval het van die reaksie op hierdie brief, is dat almal gedink het ons verwys na die etikette op wynbottels! Dis ‘n ander storie daai. Ons het net verwys na die manier waarop baie wynprodusente deur hul kommunikasiemense met die Afrikaanse media kommunikeer deur middel van persvrystellings.

 

Maar hou gerus hierdie ruimte dop. Daar’s ‘n hele paar name wat eersdaags hier gaan pronk.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>