SA wynbedryf stel wêreld se eerste volhoubaarheidseël bekend

Date posted:
April 12, 2010

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf het pas die wêreld se eerste volhoubaarheidseël bekend gestel. Dit waarborg dat 'n wyn op 'n omgewingsvriendelike manier geproduseer is. Die nuwe seël, wat deur die Wyn- en Spiritusraad uitgereik word, kom slegs op gebottelde wyn voor en word gerugsteun deur 'n gesofistikeerde opsporingstelsel waarmee elke stadium in die produksieketting van 'n wyn met behulp van 'n unieke nommer nagespoor kan word.

 

Die vrywillige stelsel, wat met die 2010-oesjaar in gebruik kom, is tot die beskikking van daardie wynmakerye wat op plaas-, kelder- en botteleringsvlak voldoen aan die volhoubaarheidsriglyne soos deur die Geïntegreerde Produksie van Wyn (IPW) neergelê. IPW dek 'n verskeidenheid van areas, soos geïntegreerde pesbestuur, die gesondheid van werkers, die behoud van biodiversiteit en die verlaging van kweekhuisgasse.

 

Die seël is die resultaat van samewerking tussen die Wyn- en Spiritusraad en IPW, asook die Biodiversiteit & Wyninisiatief (BWI) en Wines of South Africa (WOSA), die generiese bemarkingsorganisasie wat verantwoordelik is vir die wêreldwye bekendstelling van die konsep as deel van sy Handelsmerk Suid-Afrika-veldtog.

 

SU Birch, WOSA se uitvoerende hoof, het namens die betrokke instansies gesê die nuwe seël sal na verwagting verdere stukrag gee aan die land se reeds wyd erkende leierskap internasionaal in die produksie-integriteit van wyn.

 

“Hoewel ander lande besig is om soortgelyke inisiatiewe op 'n beperkte skaal van stapel te laat loop, is Suid-Afrika in hierdie stadium die enigste land wat so 'n konsep landwyd oor die hele spektrum van die wynbedryf kan implementeer en sertifiseer. Die seël is 'n voortsetting van die plaaslike wynbedryf se pioniersbenadering tot die volhoubare kweek van druiwe en maak van wyn.

 

“Die instelling van IPW in 1998 het 'n belangrike internasionale toetssteen geskep vir omgewingsverantwoordelike wynproduksie. Dit is in 2004 gevolg deur die totstandkoming van die Biodiversiteit- en Wyninisiatief wat grond binne die Kaapse wynlande vir bewaring en die herstel van inheemse plantegroei identifiseer.

 

“Van vanjaar se oes sal produsente wat geouditeer is, die nuwe seël kan gebruik as 'n visuele waarborg van hul verbintenis tot omgewingsensitiewe wynmakery,” het sy bygevoeg. “Dit is gekoppel aan die bestaande wyn-van-oorsprongstelsel wat reeds die herkoms van die druiwe, die kultivar en die oesjaar waarborg, maar bied daarby 'n verdere waarborg van produksie-integriteit en volhoubaarheid.

 

“Die geloofwaardigheid van die seël berus op die feit dat aan die hand daarvan elke stadium van die voorsieningsketting nagegaan kan word. Waar die wyn-van-oorsprongstelsel, wat van 1974 dateer, 'n wyn tot in die wingerd naspoor, identifiseer die nuwe seël die praktyke wat van die wingerd tot die bottel gevolg is.”

 

Sy het gesê gereelde steekproewe word deur onafhanklike ouditeure gedoen om te verseker dat op alle vlakke aan die riglyne voldoen word en dat die produksie-inligting wat deur deelnemers aan die databasis gelewer word, korrek is.

 

Die oorsprongseël, wat herkoms, kultivar en oesjaar waarborg, sal steeds tot die beskikking wees van produsente wat nog nie aan die vereistes vir die nuwe seël voldoen nie.

 

Meer as 95% van die Suid-Afrikaanse wynbedryf volg reeds volhoubare wingerdbou- en wynmaakbeginsels. Birch verwag dat sowat 50% van die land se produsente van die 2010-oesjaar van die nuwe seël gebruik sal maak. Die gebruik daarvan sal na verwagting volgende jaar tot sowat 80% aangroei.

 

Aangesien die seël sal verskyn slegs op wyn wat in Suid-Afrika gebottel is, glo Birch dit mag produsente ontmoedig om hul wyne in die buiteland te bottel. “Diegene wat hul wyn in stortmaat uitvoer, sal dus nie die voordeel geniet van 'n maklik herkenbare boodskap vir verbruikers dat hul wyne met eerbied vir die omgewing gemaak is nie.”

 

Verdere inligting is te vind op die webwerf www.swsa.co.za.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram