SA wynbedryf slaan nuwe rigting in

Daar is ‘n hernieude energie in die Suid-Afrikaanse wynbedryf, terwyl dit ‘n nuwe wending neem na ‘n lang afwaartse siklus. Nou, meer as ooit, moet wyndruifprodusente eienaarskap van hul toekoms neem en die beskikbare geleenthede, inligting en vennootskappe benut om ‘n volhoubare toekoms te verseker.

Die 14de Nedbank Vinpro-inligtingsdag, met die tema “Dit begin met jou”, is pas by die Kaapse Internasionale Konvensiesentrum (KIKS) gehou, met ‘n rekordbywoning van sowat 900 afgevaardigdes van regdeur die wynwaardeketting.

Die uitwerking van klimaatsverandering en waterskaarste op 2019 se oesjaar, pryse en winsgewendheid, en die onsekerheid rondom grondhervorming was van die knelpunte wat by vanjaar se jaarlikse wynbedryfskonferensie aangeraak is.

Lae voorraadvlakke, hoër pryse

“Die wyndruifoes van 2019 sal na verwagting net effens groter wees as verlede jaar se baie klein oes weens die feit dat wingerde steeds herstel na drie jaar se droogte, slegte weer tydens korrelset in Oktober en die ​​vermindering van wyndruifwingerde,” het Francois Viljoen, Vinpro se konsultasiediensbestuurder, gesê.

Die gehalte van die 2019-oesjaar sal van die weer oor die volgende paar weke afhang wat belowend lyk met koeler toestande. Gemiddeld tot laer opbrengste word verwag, maar druiwe is oor die algemeen gesond weens losser trosse met ’n laer risiko van verrotting. Die meeste streke het voldoende water beskikbaar.

Lae wynvoorraadvlakke bied aan die bedryf ’n geleentheid om hoër pryse te bewerkstellig. “Ons het reeds die afgelope twee jaar ‘n toename van 35% tot 50% in die prys van grootmaatwyn gesien, en 10% in verpakte wyn. Kom ons bou op hierdie momentum om ‘n volhoubare omgewing vir belegging te verseker,” het Anton Smuts, voorsitter van Vinpro, gesê.

Winsgewendheid steeds onder druk

Daar is egter steeds produsente wat wyn in grootmaat vir minder as R4.50/liter plaaslik aan die groothandel en R5.50/liter internasionaal verkoop. Byna die helfte van verpakte wyn wat plaaslik verkoop word, verhandel teen minder as R30/liter in vergelyking met plaaslike bottelwater wat teen R6.00 per liter en ingevoerde water wat teen soveel as R35/liter verkoop word.

“Ons kan onmoontlik volhoubaar bly teen hierdie pryse,” het Anton gesê.

Hierdie lae pryse het ook na boerderyvlak deurgesyfer waar wyndruifprodusente die afgelope dekade en langer onder swaar finansiële druk was.

“Produksiekoste het die afgelope dekade jaarliks ​​met 7.4% gestyg, en met wynpryse wat tot onlangs gestagneer het, boer meer as 80% van Suid-Afrikaanse wynprodusente onder ‘n volhoubare netto plaasinkomste van R30 000/ha,” het Christo Conradie, Vinpro se wynkelderbestuurder, gesê.

Die onlangse wynprysverhogings het egter ‘n positiewe impak op inkomstevlakke gehad, wat op sy beurt tot gevolg gehad het dat netto boerderyinkomste meer as verdubbel het, vanaf ‘n lae basis van R6 644/ha in 2017 tot R14 949/ha in 2018.

Hou dit eenvoudig

Verbruikers is geneig om wyn soos enige ander produk te koop, gebaseer op gerief, handelsmerkherkenning en reputasie. Volgens die Engelse wynskrywer en kritikus, Robert Joseph, beweeg verpakkingstyle oor verskillende produksielyne nader aan mekaar en dit word moeiliker om op grond van die tradisionele konvensies tussen drankies en prysbande te onderskei.

Om voortdurend veranderende smake te probeer gelukkig hou, lei tot ‘n bose kringloop, aangesien lae pryse lae winsgrense afdwing wat min geld vir bemarking laat. Dit lei weer tot swak handelsmerke wat slegs lae pryse kan behaal. Robert het die bedryf gewaarsku om nie met sulke onvolhoubare modelle aan te hou nie en het verduidelik dat pogings om hulle te red – soos byvoorbeeld deur op onderrig te fokus – futiel is. Verbruikers het nie onderrig nodig om tussen duur skoene of skoonheidsmiddels te kies nie, en tegnologie sny al meer die middelman uit.

In plaas daarvan stel hy modelle voor wat op handelsmerkbou fokus. “Die mees winsgewende modelle styg bo die kategorie uit en bied ervarings rondom hul handelsmerke. Generiese versnitte vereenvoudig die aankoopbesluit,” het hy gesê.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>