Werkers en produsente is verenig in hul steun vir 'n program vir die versnelde implementering van billike arbeidspraktyke op wynplase en by wynkelders.
Die plan is om dit te doen onder die beskerming van die Etiese-handelsvereniging van die Wyn- en Landboubedryf (WIETA) wat nakoming sal monitor. WIETA is 'n plaaslike vereniging sonder winsbejag wat 'n dekade gelede tot stand gekom het om etiese handel in die wynbedryf se waardeketting te bevorder en deur oudits die nakoming van sy kode van goeie praktyke te bepaal. Onder sy belangegroepe tel produsente, kleinhandelaars, vakbonde, NROs en die regering.
Hierdie billike-arbeidsinisiatief, wat deur oorsese kleinhandelaars, die Food & Allied Workers’ Union (FAWU), Sikhula Sonke, Women on Farms, asook deur gevestigde bedryfsorganisasies soos die SA Liquor Brandowners’ Association (SALBA), Wynkelders SA en die produsentevereniging VinPro gesteun word, beoog die skepping van 'n etiese seël wat redelike werkstoestande, gegrond op kwalifiseringskriteria wat streng en presies gemonitor sal word, sal bevestig.
Daar word gemeen dit sal die eerste sodanige seël wees wat deur 'n wynproduserende land ingestel word.
Slegs daardie produsente wat aan WIETA se vereistes voldoen, sal hierdie seël op hul wyne mag aanbring. Daar word voorsien dat die eerste seëls later vanjaar toegeken sal word aan produsente wat tans aan hierdie vereistes voldoen.
Die WIETA-kode van goeie praktyk is gegrond op die basiskode van die Internasionale Arbeidskonvensie se Etiese Handelsinisiatief en behels ook Suid-Afrikaanse arbeidswetgewing. Dit belet die gebruik van kinderarbeid, verklaar dat indiensneming uit vrye keuse moet wees en dat alle werknemers die reg op 'n gesonde en veilige werksomgewing moet hê. Onder die voorwaardes wat dit stel, is dat werkers die reg op vrye assosiasie moet hê, 'n menswaardige loon moet ontvang en teen onregverdige diskriminasie beskerm moet word. Regte op werkersbehuising en arbeidsekuriteit moet ook gerespekteer word.
Linda Lipparoni, WIETA se uitvoerende hoof, sê met die instelling van die seël “wil ons erkenning en akkreditasie gee aan wynmakerye en plase wat etiese praktyke volg en hulle beskerm teen enige potensiële negatiewe publisiteit wat geskep word deur diegene wat hulle nie aan die wet steur nie”.
“Na byna 20 jaar van demokrasie en blootstelling van die land se wynmakers aan internasionale beste praktyk, het ons die vlak van volwassenheid bereik waar geen skending van menseregte geduld behoort te word nie. Daar is geen plek in die bedryf vir die enkeles wat volhard met onmenslike arbeidspraktyke en daardeur die meerderheid benadeel wat die etiese behandeling van werkers as sowel 'n morele as 'n wetlike verpligting beskou nie.”
Rico Basson, uitvoerende hoof van VinPro, het gesê die doel van die inisiatief was om vertroue in Suid-Afrika sowel plaaslik as internasionaal te verhoog en voordeel te trek uit die land se globale leierskapsposisie in volhoubare produksie.
“Wynliefhebbers is geregtig daarop om te weet dat die wyn wat hulle drink, gemaak is met eerbied vir die omgewing en onder etiese werksomstandighede. Ons bedryf het vir hom 'n reputasie vir die bevordering van omgewingsvolhoubare wynproduksie opgebou. Dit het tyd geword dat ons hierdie reputasie ewenaar met 'n reputasie vir die bevordering van sosiale volhoubaarheid. As vertrekpunt benodig ons groter bekendheid met en implementering van die wet met sowel werkers as produsente wat verstaan wat hul regte en verantwoordelikhede is,” het hy gesê.
Lipparoni het gesê die ten volle naspeurbare seël is gegrond op Suid-Afrika se volhoubaarheidseël wat ontwikkel is om bewustheid te bevorder van die produksie-integriteit wat in elke stadium van die voorsieningsketting van die wingerd tot die bottel geld.
Sy het bevestig dat die etiese program in drie fases geïmplementeer sal word. Die eerste is die gelyktydige opleiding van werkers, eienaars en bestuur in arbeidswetgewing en die WIETA-kode van billike handelsbeginsels. WIETA verskaf alle handleidings vir opleiding gratis.
Na die aanvanklike opleidingsfase, voltooi alle produsente vorms om te bepaal tot watter hoogte hulle aan die vereistes voldoen waarna daar verdere bystand van WIETA is om die areas waar hulle te kort skiet, aan te spreek.
In die finale fase van die proses moet produsente 'n volle WIETA-oudit slaag. Die oudit sluit inspeksies ter plaatse in.
Ten einde die etiese seël te kan vertoon, moet handelsmerkeienaars 'n jaarliks hernieubare, wetlik bindende ooreenkoms met WIETA sluit. Ten einde volledige naspeurbaarheid te verseker, moet handelsmerkeienaars al hul verskaffers identifiseer. Minstens 60% van hierdie verskaffers moet ook by WIETA geakkrediteer wees terwyl die oorblywende 40% bewys moet kan lewer dat hulle hulself op akkreditasie voorberei.
Lipparoni het aangedui dat WIETA dit oorweeg om etiese, gesondheids- en veiligheidsoudits wat deur ander erkende organisasies onderneem is, te erken ten einde die akkreditasieproses te vergemaklik.
Basson het gesê die langertermyn-doelwit was 'n enkele seël wat deur die Wyn- en Spiritusraad uitgereik word en wat sowel produksie-integriteit as billike werkstoestande bevestig benewens gesertifiseerde wyn-van-oorspronginligting soos oesjaar en kultivar.
WIETA sal saamwerk met Wines of South Africa (WOSA) wat die nuwe etiese seël aan die handel en verbruikers sal bevorder, tesame met Fairtrade en Fair for Life.
Vir meer inligting, gaan na www.wieta.org.za.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast