SA wynbedryf kry buitelandse erkenning vir etiese praktyke

Date posted:
December 4, 2009

Die wynbedryf in Suid-Afrika voer ondanks die globale resessie steeds al hoe meer uit, maar kry ook al hoe meer erkenning in die buiteland vir sy etiese benadering tot wynmakery, sê Su Birch, die uitvoerende hoof van Wines of South Africa (WOSA).

 

Suid-Afrika het onlangs erkenning gekry van die invloedryke handelspublikasie, The Drinks Business van die VK, wat sy etiek-toekenning vir 2009 aan hom toegeken het. Hy het ook met die meeste van die trofeë en pryse by die Fairtrade Wine Committee se kompetisie vir die beste wyne van die jaar in Londen weggestap.

 

“Dis gepas dat ons, nadat ons die wêreldmarkte net 15 jaar gelede weer betree het, leiers op die gebied van die skepping van etiese standaarde word. Ons herstel die ongeregtighede van die verlede en bevorder ’n beter lewensgehalte vir baie mense. Die onlangse welslae van ons bedryf is hierop gebou,” sê Birch.

 

Sy voeg by dat die toekennings op ’n baie belangrike tydstip gedoen is. “Orals ter wêreld staan ondernemings voor al hoe meer ekonomiese druk en werkers word kwesbaar. Ons het bewys dat taaier handelstoestande nie noodwendig ’n invloed op etiese arbeidstandaarde hoef te hê nie.

 

“Ons is baie trots op die geweldige vordering wat met die gehalte van Suid-Afrika se wyne gemaak is, en op die feit dat hulle al hoe meer erkenning by internasionale kompetisies kry. Vooraanstaande kritici slaan hulle ook hoog aan. Ons is baie trots op die reputasie vir volhoubare wynproduksie wat ons gebou het en die feit dat ander lande nou na ons kyk vir oplossings ten opsigte van die beste praktyke om die gevolge vir die omgewing te verminder. Ons moet egter nie net die gehalte van ons wyn en die fisiese omgewing beskerm nie, maar ook die mense wat by die bedryf betrokke is.”

 

Die Etiek-toekenning is besorg aan Projek Laduma, WOSA se program om wynkelners voor die 2010-wêreldbekertoernooi op te lei. Die befondsing kom grootliks van die verkoop van Fundi-wyne wat vir dié doel gemaak is. Die wyn verkoop in talle buitelandse markte, onder meer die VK, Noord-Amerika en Japan. Kandidate vir die opleiding kom uit sowel die gasvryheidbedryf as die geledere van die werkloses.

 

Charlotte Hey, direkteur van The Drinks Business, sê: “Die Fundi-projek het die beoordelaars opgewonde laat voel én beïndruk. Dit is vernuwend, maar hulle het ook gedink dis ’n inisiatief wat op ’n etiese vlak ware waarde het en voordele inhou. Die slim plan om ’n internasionale gebeurtenis met opvoeding en opleiding in wyn saam te voeg vir mense wat normaalweg nie ’n kans sou kry om meer van die produk te leer nie, het dit bo die ander inskrywings in die kategorie laat uitstyg. Die wese van die Wine Innovation Awards is om te vernuwe én te inspireer, en die Fundi-projek versinnebeeld waarvoor die toekennings staan.”

 

Suid-Afrikaanse produsente het die 2009-trofeë vir Beste Algehele Fairtrade-wyn, Beste Fairtrade-rooiwyn en Beste Fairtrade-witwyn gewen. Die top-prys, asook die prys vir die beste rooiwyn, is opgeraap deur Isabelo Pinotage 2008, en die prys vir die beste witwyn is aan Six Hats Sauvignon Blanc 2009 toegeken. Die titel as Beste Fairtrade-vonkelwyn het gegaan na die Co-operative Fairtrade Cape Sparkling Rosé NV wat deur die Du Toitskloof-kelder gemaak word.

 

Decanter, ’n vooraanstaande Britse verbruikerstydskrif met lesers orals ter wêreld, het ses Suid-Afrikaanse wyne vir sy lys van die tien beste Fairtrade-wyne gekies. Hulle is onder meer wyne van Isabelo, Hope’s Garden, Thandi, Fairhills en twee wat vir die Co-operative Group gemaak word.

 

Birch sê dat WIETA, die Etiese Landbouhandelsinisiatief SA, wat in 2002 gestig is, plaaslike produsente ook gehelp het om die werksomstandighede op plase te verbeter. Die organisasie het ’n kode van goeie praktyk geskep wat arbeidstandaarde vasstel om hervorming aan te moedig. Hy het ook met groot kleinhandelaars in die buiteland saamgewerk om steun vir sy doelwitte te bou.

 

Vroeër vanjaar is WOSA vir The Drinks Business se Groen Lys gekies vir die rol wat hy speel om die publiek meer van die omgewing bewus te maak. WOSA het die vyfde plek beklee, net ná pres. Barack Obama (vierde plek), maar voor enige ander nasionale wynbemarkingsliggaam.

 

Suid-Afrika spog met die vinnigste groeikoers ten opsigte van wynverkope van al sy mededingers in die VK. Sy volume-aandeel van die mark staan op net meer as 10%.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram