SA wynbedryf betreur heengaan van visioenêre Julius Laszlo

Date posted:
July 21, 2010

Dr. Julius Laszlo, Die Bergkelder se keldermeester van 1978 tot 1992, en een van die invloedrykste wynmakers in Suid-Afrika, is in die ouderdom van 83 op Stellenbosch oorlede.

 

Dr Laszlo het ’n deurslaggewende rol gespeel om Suid-Afrika se wynbedryf nuwe aansien te gee. Hy was een van die belangrike voorstanders van ’n opgradering van die gehalte van die Kaap se wingerde en het nuwe wingerdmateriaal verkry en die klem op die kweek van edel wyndruifkultivars gelê. Hy was ook ’n baanbreker wat betref die gebruik van klein eikehoutvate vir die veroudering van rooiwyn in die tyd toe groter vate gewild was.

 

Sy werk op wingerd- en wynboukundige vlak het die grondslag vir die produksie van die baie suksesvolle Pongracz- en JC le Roux-vonkelwyne gelê.

 

Jan Scannell, besturende direkteur van Distell wat tans ook Die Bergkelder insluit, het in sy hulde aan dr. Laszlo gesê: “Hy het die maak van wyn in Suid-Afrika help moderniseer, en laat ’n durende erfenis agter. Sy kundigheid, ervaring en vermoë om te vernuwe het in sy ampstyd gehelp om die impak van die ekonomiese en kulturele afsondering op Suid-Afrikaanse wynmakers te verminder. Hy het ons aan internasionale navorsing en tegnieke blootgestel. Sy streng standaarde, sy soeke na uitnemendheid en sy vernuwings het Die Bergkelder se wyne verbeter, maar ook elders in die land verbeterings in wingerd- en wynboukunde meegebring, met blywende resultate.”

 

Scannell het gesê die bydraes van groot geeste soos dr. Laszlo het die land gehelp om kort na die koms van demokrasie talle internasionale bekronings vir sy wyn te verower, en ook om ná dekades van afsondering van die hoofstroom weer by internasionale handel betrokke te raak.

 

Dr. Laszlo, wat van Hongaarse herkoms was, is in 1926 in die Roemeense provinsie Transsilvanië gebore, wat tot 1918 deel van die Oostenryks-Hongaarse Ryk was. Hy het aan die Universiteit van Cluj in Transsilvanië gestudeer waarna hy in Moskou ’n doktorsgraad in grondmikrobiologie behaal het.

 

Ná sy terugkeer na Roemenië is hy as direkteur van die Roemeense Navorsingsinstituut vir Wingerboukunde en Wynkunde aangestel, en hy het dié pos tot 1974 beklee. Hy en sy gesin het Roemenië toe as politieke vlugtelinge verlaat en na Suid-Afrika gekom.

 

Hy was aanvanklik by die Navorsingsinstituut vir Wingerdbou- en Wynkunde op Stellenbosch in diens.

 

Drie jaar gelede het die Fleur du Cap-span, wat by Die Bergkelder gesetel is, ’n eksklusiewe rooi naamversnit bekend gestel. Dit is Laszlo genoem om sy prestasies te herdenk. Dr. Laszlo het die bekendstelling bygewoon en het tydens ’n dinee in Die Bergkelder, wat hy help skep het, met ou vriende herinneringe uitgeruil.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram