SA whiskies slaan goud los op internasionale front

Date posted:
September 1, 2011

Die beperkte weergawe van Three Ships se enkelmoutwhisky is besig om regoor die wêreld golwe te maak. Kort nadat dit goud op die Concours Mondial de Bruxelles in Luxemborg verower het, het die 10-jaaroue Three Ships enkelmout goud los geslaan op vanjaar se International Wine and Spirits Competition.

 

Volgens die meesterdistilleerder, Andy Watts, dui hierdie toekennings op die reuse treë wat Three Ships steeds in die wêreld van whisky gee.

 

“Die whiskybedryf in Suid-Afrika, in teenstelling met die gevestigde produsente soos Skotland, is steeds relatiefgesproke in sy kinderskoene. Ons is egter voortdurend besig om ons reeks te ontwikkel ten einde die land se vermoë te onderstreep om wêreldklas-whiskies te maak. Erkenning van hierdie internasionale kompetisies, waar sommige van die wêreld se grootste kenners as beoordelaars optree, laat mens nederig voel , maar dis ook ’n aanduiding dat ons in die regte rigting beweeg.

 

“Ons enkelmout is beslis ’n voorbeeld van hoe ons reeds vooruitgang gemaak het. Dit het tien jaar in Amerikaanse eikehoutvate van verskillende ouderdomme deurgebring waar die ouer en kleiner vaatjies tot die buitengewone sagtheid en effense soetigheid bygedra het. Aangesien slegs 8 000 bottels verlede jaar in Oktober bekend gestel is, sal dit nie maklik wees om jou hande op ‘n bottel te lê nie, maar indien jy gelukkig genoeg is, maak seker dit word deel van jou whisky-versameling.”

 

Die whisky is volrond en bied ’n sweempie turfagtige en estergeure wat ’n effense soet geur verleen wat mens herrinner aan gedroogde vrugte en fudge.

 

Die Three Ships-reeks  whiskies word by die The James Sedgwick Distillery by Wellington in die skadu van die Kaap se Klein Drakensteinberge gemaak. Die distilleerdery is in 1886 gebou en het die afgelope twee dekades verskeie opgraderings ondergaan om dit in ’n moderne fasiliteit te omskep.

 

Die Three Ships-reeks whiskies bestaan uit Three Ships Select, Three Ships 5-year-old Premium Select, Three Ships Bourbon Cask Finish en Three Ships 10-year-old Single Malt Whisky.

 

Links: Bain's Cape Mountain Whisky het ook goud losgeslaan en SA se naam hoog gehou.

 

Maar dis nie net Three Ships wat Suid-Afrika se naam in goud toedraai nie. Die trots Suid-Afrikaanse enkelgraanwhisky, Bain’s Cape Mountain Whiskey, het vir die tweede agtereenvolgende jaar huiswaarts gekeer van die International Wine and Spirits Competition af met ’n goue medalje.

 

Die 2011-beoordelaars het die whisky, wat 100% van graan gemaak is, geprys vir sy “uitstekende, skoon en lewendige aanslag op die mond met soet graanfermheid en pragtige balans”.

 

Bain’s Cape Mountain Whiskey, geïnspireer deur die natuurskone Bainskloofpas, word van die beste Suid-Afrikaanse graan gemaak. Dit is Suid-Afrika se heel eerste enkelgraanwhisky en sy dubbele veroudering verleen geur en kompleksiteit wat lei tot ’n buitengewoon sagte en kenmerkende whisky.

 

Hierdie whisky, wat ook deur die meesterdistilleerder, Andy Watts, gemaak word, vertoon ’n buitengewone interaksie tussen spiritus en hout om ’n mengsel van toffie-, blomme- en vanielje-aromas vry te stel met ’n titsel speserye wat deur ’n effense soetigheid versag word. Die resultaat is ’n warm en talmende mondgevoel met ’n buitengewoon sagte einde.

 

Bain’s Cape Mountain Whiskey word gedistilleer en verouder by die The James Sedgwick Distillery wat uit 1886 dateer en naby die voet van die Bainskloofpas buite Wellington in die hart van die Boland geleë is. Die whisky word opgedra aan Andrew Geddes Bain, die pionierende pasbouer wat die meesterbrein agter die Bainskloofpas was wat Wellington in die middel 1850s met die binneland verbind het.

 

Bain’s Cape Mountain Whiskey is by vooraanstaande kleinhandelaars beskikbaar teen sowat R180 per 750ml-bottel.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram