SA se top chenin blancs gaan internasionale blootstelling geniet

Vir die eerste keer in die nege jaar dat die Standard Bank Chenin Blanc Top 10-uitdaging bestaan, sal die wenwyne onder die aandag kom van die internasionale handel en van wynliefhebbers die wêreld oor, aldus Ken Forrester (bo), voorsitter van die Chenin Blanc-vereniging, wat die jaarlikse kompetisie reël.

Forrester het bevestig dat die wyne in November geproe sal word by die Chenin Blanc Summit wat in Stellenbosch plaasvind en wat na verwagting deur sowat 300 produsente, wynkenners, akademici en kommentators vanoor die wêreld bygewoon sal word. Die Wes-Kaap is vir die geleentheid gekies aangesien daar meer chenin-wingerdstokke hier groei as in die res van die wêreld saam. Meer belangrik is die feit dat plaaslike produsente internasionale erkenning geniet vir hul dinamiese, innoverende benadering tot die kweek en maak van chenin blanc.

Forrester sê die wenwyne in die Top 10-uitdaging is die allerbeste chenins wat in Suid-Afrika gemaak word. Hulle sal ook ingesluit word by ’n spesiale proegeleentheid op die vooraand van Suid-Afrika se driejaarlikse wynuitstalling, CapeWine 2022, wat in Oktober plaasvind.

Forrester wys daarop dat ondanks die feit dat die Suid-Afrikaanse wingerde in 2021 in sy geheel tot net minder as 91 000 ha gekrimp het, is chenin steeds die kultivar wat die meeste plaaslik aangeplant word. Sy aandeel in die totaal het effens gestyg tot 18,6%.

“Dit wys dat ondanks die feit dat die bedryf wingerdstokke uithaal weens droogte, gebrek aan voldoende water, ekonomiese lewensvatbaarheid of meer winsgewende gebruik van die grond, chenin blanc steeds dominant bly weens die enorme potensiaal wat dit bied. Dit verduidelik ook waarom, volgens SA Wine Industry Information & Systems (SAWIS), chenin die kultivar is wat in 2021 steeds die meeste aangeplant is.

“Dit sou ook moeilik wees om ’n ander kultivar te vind wat ewe klimaatbestand en so stilisties veelsydig is. Dat bykans ’n derde van alle chenin-aanplantings ouer as 20 jaar is, is nog een van sy kenmerke. Volwasse wingerdstokke bied groter diepte van geur en is beter bestand teen klimaatsveranderinge. Hulle bied die geleentheid om te kan werk met karaktervolle druiwe van voortreflike gehalte.”

Inskrywings vir die 2022-kompetisie open op 20 Junie en sluit 10 dae later. Die inskrywings  moet by Villiera buite Stellenbosch afgelewer word. Die wenners sal einde Augustus bekend gemaak word.

Vir meer inligting, besoek www.chenin.co.za of stuur ’n epos aan Ina Smith by cheninblancasso@gmail.com.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>